Veldslae

SLAG VAN DIE TWEE RIVIERE

Die Slag van die Twee Riviere (aan die Britte bekend as die Battle of Modder River) het op die 28ste November 1899 tydens die Tweede Vryheidsoorlog by die sameloop van die Modderrivier en die Rietrivier plaasgevind. Generaal de la Rey het na die veldslae te Graspan enBelmont waargeneem dat die ou Boerestrategie om koppe in te neem nie meer ‘n volhoubare strategie was nie aangesien die koppies nie net binne bereik was van die Britse kanonne nie maar ook uitstekende teikens vir die artillerie was. Verder het die styl hellings van die koppe ook goeie dekking aan die aanvalsmag verleen as hulle eers die voet van die kop bereik het. Hy het besef dat gelyke grond veel beter skuiling kon bied en ook ‘n meer doeltreffender skootveld aan die moderne gewere besorg het. Generaal de la Rey het ook anders as die gewone gebruik om ‘n rivier as hindernis te gebruik, sy burgers aan die suidekant, sowat 50 tot ‘n 100 meter van die rivierwal af laat ingrawe. Generaal de la Rey se Transvalers saam met sowat ‘n 1200 burgers onder bevel van Generaal Piet Cronjé het die Boeremagte op ongeveer 3500 tot 4000 te staan gebring. Hulle het ses Krupp-kanonne en ten minste vier pom-pom masjiengewere by hul gehad. Die Britse magte het uit ongeveer 10 000 manskappe bestaan met drie artillerie-batterye asook vier swaar 12-pond skeepskanonne. Om 04h00 die oggend van die 28ste was die Britse mag aan’t opmars na die Modderrivier-brug (die spoorbrug loop vandag nog op dieselfde plek oor die rivier en ‘n replika van ‘n blokhuis kan vandag nog daar gesien word). Lord Methuen wat die Boeremagte op die koppe verwag het, het reguit in die Boere se lokval ingestap. Die skietgeveg tussen die twee magte het ‘n volle 10 uur lank geduur. Die Britte was aanvanklik vasgepen op die oop veld maar ‘n aanval op die Boeremagte se regterflank was suksesvol en het die Boere genoop om te ontrek. Die Britse verliese was 70 sterfgevalle en 413 gewondes; Methuen self is in die regterheup gewond tydens die geveg. Aan die Boeremagte se kant is 16 gedood, 66 gewond en 13 manskappe is gevange geneem.

Bronne: Wiki

Die Slag van Spioenkop 24 Januarie 1900

 

deur Kaptein N.M. Lemmer

Die slag van Spioenkop, gekenmerk deur weergalose dapperheid aan albei kante, word herken as die hewigste geveg van die hele Driejarige Oorlog. Na die eerste gevegte aan die Natalse Front, nl. Talana, Elandslaagte en Modderspruit-Nicholsonsnek onderskeidelik op 20, 21 en 30 Oktober, 1899, word Genl. Sir George White met sowat 12,000 troepe in Ladysmith deur Komdt-genl. Piet Joubert beleër. Hierna beset die boere die Tugela-linie en slaan Genl. Sir Redvers Buller se eerste aanval af met die Slag van Colenso (13 Desember 1899). ‘n Tweede deurbraak-poging hoër op met die rivier langs loop uit op die Slag van Spioenkop. Volgens die aanvalsplan van Genl. Sir Charles Warren beset ‘n troepemag van sowat 1,700 man onder bevel van Genl. R.E.P. Woodgate Spioenkop in die nag van 23-24 Januarie 1900 en verdryf die brandwagte wat daar gepos was. Die mag het bestaan uit die Lancashire Fusiliers, die South Lancashires, die Royal Lancasters en die 17th Field Company Royal Engineers. Thorneycroft het met 200 man van sy Mounted Infantry die aanval gelei. Die Boere was totaal verras deur die besetting van Spioenkop. Vroeg die oggend bereik die brandwagte genl. Schalk Burger se laer. Toe lg. van die verrassingsaanval verneem, laat hy die dappere komdt. H.F. Prinsloo met sowat 90 man van die Carolina-kommando die takties-belangrike Aalwynkoppie op die Britte se regterflank beset. ‘n Afdeling van 30 Heidelbergers doen op dieselfde tydstip ‘n aanval in die digte mis teen die noord-westelike hang op die linkerflank van die Britte. Albei groepe word met moordende vuur begroet en aanval na aanval word vanaf die Aalwynkoppie geloods en die Carolina-burgers ly swaar verlies. Later het genl. Louis Botha bevel oorgeneem en 400 vrywilligers die kop uitgestuur. Die vrywilligers het gekom van die kommando’s wat op die monument aangedui word. Komdt. ,,Rooi” Daniel Opperman van die Pretoria-kommando het hom hier besonder onderskei. Genl. Botha het self die geveg gelei vanaf sy hoofkwartier op ‘n rant ten noorde van Spioenkop vanwaar sy kanonne ‘n dodelike vuur op die kop neergebring het. Die Boeremagte het nooit meer as ongeveer 300 man getel nie.

Toe die mis teen 8 vm ooptrek, begin ‘n verbitterde geveg om besit van die plato. Die Britse troepe word van drie kante af bestook. Om 8.43 vm. word Genl. Woodgate dodelik gewond en Kol. Thorneycroft, wat bevorder is tot generaal, neem die bevel oor. Teen ongeveer 9 vm. begin die Boerekanonne, opgestel deur genl. Botha, en onder bevel van maj. Wolmarans van die Transvaalse Staatsartillerie, vanuit drie rigtings die kop bestook en dwarsdeur die dag word die bombardement met dodelik akkuraatheid voortgesit. Teen twaalfuur dryf die burgers die Britse troepe terug tot in hulle hoofloopgrawe. ‘n Paar heldhaftige stormlope deur die burgers het as gevolg dat 176 Britse troepe op die noordoostelike flank oorgee. Genl. Thorneycroft het doodsveragtend verdere oorgawes gerepudieer. Die kop kon hulle egter nie verower nie, daar die Britte, nieteenstaande dood en verwoesting onder hulle geledere, vasgeklou het aan hulle loopgrawe. Teen die middel van die dag het versterkings, bestaande uit die Middlesex-, die Dorset- en die Somersetregimente, Coke se Brigade, asook die Rand Imperial Light Infantry (lg. het bestaan uit ,,vlugtelinge” uit Johannesburg), opgedaag. Ook hulle het verskeie dappere aanvalle op die boerelinie gedoen, dog is met swaar verliese teruggeslinger. Die slagting op die beperkte terrein, die ontberings as gevolg van dors in die bloedige son, was ontsettend. Nog versterkings, bestaande nit die Scottish Rifles, die Kings Royal Rifles en andere wat later die middag opgedaag het, kon ook nie ‘n beslissing afdwing nie en het sake vir die Britte slegs vererger daar hulle a.g.v. die beperkte terrein nie behoorlik kon ontplooi nie. Hulle is later die middag teruggetrek. Teen donker is die vuur gestaak en teen 10 nm ontruim Thorneycroft die kop met sy hele mag terwyl die meeste Boere toe alreeds teruggetrek het. Die slagveld was verlate en het stil geword behalwe vir die gekerm en gekreun van gewondes. Die wyse waarop die Boere hulle artillerie aangewend het, het vergoed vir hulle klein getalle en het die deurslag gegee. Die Britte daarenteen, kon weens gebrek aan observasie en die mislukking van hulle verbindings (hulle heliograwe is aan stukke geskiet) nie hul artillerie takties reg aanwend nie.

Die volgende oggend ontdek die Boere dat hulle die slag gewen het en dat Buller besig was om met sy leër terug te trek oor die Tugela.

Spioenkop het meer as 500 Britse lewens geëis en talle gewondes is later oorlede terwyl sowat 60 Boere op die Kop self gesneuwel het.

Ingesluit in die naamlys wat op die monument verskyn is daar ook die van manne wat gesneuwel het gedurende die ses dae wat die slag van Spioenkop voorafgegaan het – ‘n totale verlies dus, van 106 burgers.

Spioenkop het inderdaad die lewens van die heldhaftigste manne aan albei kante geeis.

Bron: SA Mil

Slag van Boomplaats

Die Slag van Boomplaats is ‘n veldslag wat op 29 Augustus 1848 tussen Voortrekkers onder Andries Pretorius en Britse magte van Harry Smith plaasgevind het. Pretorius was in bevel van ongeveer 300 man teenoor Smith se 1 200 man. Hoewel die Britte die slag gewen het en Pretorius se mag op die vlug moes slaan, het hy slegs sewe ongevalle gehad teenoor die twee-en-twintig (sestien volgens sommige bronne) aan die Britse kant. Die slag was die eerste gewapende stryd van die Boere teen Britse besetting van die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier. Die nasleep daarvan het ook gelei tot die eerste teregstelling van ‘n Kaapse Rebel deur die Britse owerheid in die Kaap.

Harry Smith annekseer die gebied tussen die Oranje en Vaalrivier op 3 Februarie 1848 as dieOranjerivier-Soewereiniteit. Pretorius wat reeds begin voel het dat geweldadige teenstand teen die Britte moontlik die enigste weg na vryheid was, vaardig op 8 April 1848 Een Algemene Oproeping uit waarin hy die Voortrekkers daarop wys dat hulle nooit daarin sal slaag om hulself vry te trek of te vlug nie, maar die wapen sal moet opneem. Die Ohrigstadse Volksraad en A. H. Potgieter berus hulle egter by die Britse anneksasie van die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier. Potgieter belê op 15 Mei 1848 ‘n vergadering op Potchefstroom waar daar besluit word om die oorlogsplanne te laat vaar en Potgieter instem om die Britse owerheid te versoek om Winburg aan die republikeinse noorde af te staan. Pretorius bedank as Kommandant-generaal en gaan woon op sy plaas in die Magaliesberge. In Junie 1848 word Pretorius versoek om te help in die verset teen T. J. Biddulph wat deur die Britse owerheid as magistraat aangestel is in Winburg. Pretorius word op 20 Junie 1848 aan die Sandrivier as Kommandant-generaal verkies. ‘n Protesveldtog word georganiseer om die Goewerneur van die Kaapkolonie te oortuig dat die meerderheid in die Oranjerivier-Soewereiniteit teen Britse heerskappy gekant is. Pretorius gaan Winburg op 12 Julie met ‘n groot gewapende mag binne. In Bloemfontein dryf hy en ‘n duisend sterk kommando majoor H. D. Warden uit. Vandaar vertrek hy na die Oranjerivier waar hy by Bothasdrif, teenoor Warden se kamp, sy laer trek. Pretorius pleit steeds die terugtrekking van Britse beheer oor die gebied noord van die Oranje. Smith se reaksie is egter om Pretorius op 22 Julie tot “rebel” te verklaar en ‘n losprys van £1 000 op Pretorius se kop te plaas. Pretorius laat ook nie op hom wag nie en toon sy minagting vir Smith en sy proklamasie deur op 3 Augustus in Bloemfontein ‘n plakkaat uit te vaardig onder die naam “Koning Andreas I, koning van die Immigrante van die noordelike gebiede van Suidelike Afrika” en ‘n losprys van £3 000 sterling op Smith se kop te plaas. Warden het besef dat ‘n gewapende konflik met die Boere verreikende gevolge kon hê en het Smith daarteen probeer waarsku, maar dié het hom gerusgestel met die woorde: “My dear fellow, pray bear in mind that the Boers are my children!”. 

BRITSE OPMARS EN DIE SLAG 

‘n Britse mag word ook noordwaarts gestuur om die Britse bewind oor die Oranjerivier-Soewereiniteit te herstel. Pretorius wat gehoop het hy kon bloedvergieting vermy val op 16 Augustus 1848 terug in die rigting van Bloemfontein wat die Britse magte later in staat stel om die rivier onverhinderd oor te steek. Smith het Kolonel George Buller beveel om ‘n mag te mobiliseer en na die Oranjerivier op te trek. Hulle bereik Colesberg op 21 Augustus waar hulle by ander eenhede aansluit. Sir Harry daag ook kort daarna uit Kaapstad op om die bevel oor te neem.

Smith was in bevel van die twee Skuttersbrigade troepe en twee elk van die 45ste en die 91ste Regimente, ‘n afdeling van die Kaaps Berede Skutters (Pandoere), drie sesponder-veldkanonne, en onder bevel van Lt. Dynely van die Koninklike Artillerie en ‘n klein eenheid van Sappeurs en Mineurs. Verder het die Mediese Department bestaan uit Mnr. Hall, Dr. Atkinson en ‘n Mnr. Power. Voorrade is met ‘n kommissariaat van 117 waens onder beheer van ‘n span Griekwas gekarwei. Daar was altesaam 1 200 soldate.

Alhoewel die Boere nie professionele soldate was nie was hulle formidabele teenstanders aangesien hulle uitstekende skuts was. Hul enigste kanon was Ou Grietjie wat in die Slag van Bloedrivier gebruik is. Die Boere was egter almal berede wat hulle baie beweegbaar gemaak het.

Die Britte het die Oranjerivier onverhinderd oorgesteek en in die rigting van die plaas Boomplaats op pad na Bloemfontein begin beweeg. Op 29 Augustus het die Britte op die verlate plaas Touwfontein ontbyt geëet. Hier vind hulle uit dat Pretorius stelling ingeneem het in ‘n reeks lae koppies omtrent twaalf myl weg regs van die pad na Boomplaats. Smith het die teiken vroeg in die namiddag bereik en onmiddelik tot aanval oorgegaan. Die Kaapse Berede Skutters aan die linker kant, die 45ste in die middel en die Skuttersbrigade aan die regterkant, met die 91ste wat as ‘n reserwemag gereserveer is. Kaptein Murray het sy swaard getrek en die teken gegee om aan te val. Die 45ste het onder swaar vuur deurgeloop en kon slegs die Boere posisies handhaaf toe die 9lste ter ondersteuning opgekom het. Die Kaapse Berede Skutters het ‘n Boere sy-aanval verslaan, wat gepoog het om die waens en agter die magte aan te val, en hulle doelwitte bereik. Die Skutters Brigade het ook in hulle doelwitte geslaag en Pretorius moes na drie ure op die vlug slaan en oor die Vaalrivier terug trek. 

Twee-en-twintig Britte waaronder twee Britse offisiere het in die slag omgekom en 38 gewond insluitend Sir Harry wat in die hakskeen gewond is. Sewe boere het omgekom en vyf is gewond.

 Bron: Wiki

Slag van Colenso

Die Slag van Colenso het tydens die Tweede Vryheidsoorlog tussen die Britse magte en die Boeremagte van die ZAR en die VrystaatseRepubliek op die 15de Desember 1899 plaasgevind.

Ontoereikende voorbereiding en verkenning en ‘n gebrek aan begeesterde leierskap het gelei tot hoë ongevalle en ‘n vernederende neerlag deur die Britse magte

AGTERGROND 

Kort voor die uitbreek van die oorlog is Generaal Sir Redvers Buller aangestel as opperbevelvoerder van al die Britse magte in Suid-Afrika. Met sy aankoms was verskeie Britse garnisoene reeds beleër met baie beperkte kommunisikasie tussen hulle. Nadat hy afdelings onder bevel vanLord Methuen en Gatacre na respektiewelik die westelike en sentrale front gestuur het, het hy self bevel van die grootste afdeling oorgeneem en onderneem om hulle te lei om die beleërde dorp, Ladysmith in die hedendaagse Kwazulu-Natal te ontset.

Die Boeremagte het op die front verskeie stroop- en verkenningstogte na die suidelike deel van die Natalse kolonie gemaak maar het telkens wanneer hulle van aangesig tot aangesig met die Britse Leër kennis gemaak het, teruggetrek. Hulle het uiteindelik tot die aan die noordekant van die Tugela Rivier teruggetrek waar hulle hulself ingegrawe het met die doel om die pad en spoorlyn na Ladysmith te blokkeer.

BRITSE STRATEGIE 

Buller was nie in staat om flankaanvalle te loods nie as gevolg van ‘n gebrek aan waens en trekdiere en het daarom besluit op ‘n direkte frontaanval naby die spoorlyn, wat ook sy kommunikasielyn was.

Buller was van plan om sy 5de Brigade, ‘n Ierse eenheid onder bevel van Majoor-generaal Hart te stuur om ‘n drif twee myl opstroom van die dorpie Colenso oor te steek.

‘n Ander brigade onder bevel van Majoor-generaal Hildyard sou die dorp self oorneem (waar daar ‘n pad en spoorbrug bestaan het). Aan hulle regterlinie sou ‘n brigade van die colonial light horse en berede infanterie ‘n klein heuwel bekend as Hlangwane kop probeer oorneem wat ten suide van die Tugela geleë was en deur Boeremagte beset ten einde die bedreiging tot hulle linkerflank af te weer. ‘n Verder twee infanterie brigades sou as reserwe dien.

DIE BOERE STRATEGIE 

Generaal Louis Botha het die spoorbrug opgeblaas maar doelbewus die padbrug ongeskonde gelaat in die hoop dat hulle die Engelse in ‘n lokval kon lei en dan die brug agter hulle met artillerievuur beskadig of vernietig om te verhoed dat hulle ontsnap.

DIE VELDSLAG 

Vroeg op die oggend van 15 Desember 1899 het Hart sy troepe vir ‘n halfuur lank ‘n paradegrond dril laat doen en hulle toe in geslote kolonne na die drif in die rivier gelei. Sy plaaslik gewerfde gids wat glad nie Engels kon praat nie het die brigade na die verkeerde drif aan die punt van ‘n kronkel in die rivier gelei. Botha het sy manne beveel om nie te vuur voordat die Britte die rivier probeer oorsteek nie, maar Hart se brigade in wat in die kronkel vasgekeer was, was eenvoudig ‘n te aanloklike teiken. Die Boere het begin vuur en Hart se brigade het meer as 500 ongevalle gelei voordat hulle kon onttrek.

Onderwyl het Hildyard aanbeweeg na Colenso met twee batterye veldkanonne onder bevel van Kolonel Long aan sy voorhoede waar hulle die kanonne ontplooi het binne trefafstand van die naaste Boerelinies. Weereens was dit ook ‘n te aanloklike teiken en het die Boere begin vuur. Die Britse kanoniers het die Boere aanvanklik die stryd aangesê, maar is uiteindelik gedwing om dekking te soek in ‘n donga (‘n droë rivierbedding) agter die kanonne. Buller wat verneem het dat sy light horse brigade vasgepen was aan die voet van Hlangwane en dus nie in staat was om die opmars voort te sit nie, het op die punt besluit om die aftog te blaas, selfs al het Hildyard daarin geslaag om Colenso in te val.

Buller wat self lig gewond is het ‘n beroep op vrywilligers gedoen om te help om Long se kanonne te herwin. Twee spanne het daarin geslaag om twee van die kanonne terug te sleep maar ‘n ander poging het misluk toe die vrywilligers deur die Boere se geweervuur neergefel is. Een van hulle was Luitenant Freddy Roberts, die enigste seun van Veldmaarskalk Lord Roberts.

Die Britte het gedurende die middag na hul kamp teruggetrek en tien kanonne en vele gewonde kanonniers asook sommige van Hildyard se troepe.

NADRAAI 

Al is Buller as opperbevelvoerder deur Lord Roberts vervang het Buller steeds in bevel gebly in Natal ten spyte van Freddy Roberts se dood.

In die loop van die volgende maand het Buller voortgegaan met sy oorspronklike aanvalsplan op die Boereflank. Dit het egter gelei tot ‘n verdere neerlaag tydens die Slag van Spioenkop. Hy het uiteindelik na Colenso teruggekeer en met moeite sy pad oor die Tugela oopgeveg deur die boere se flank verby te steek en Hlangwane oor te neem. Dit het egter ‘n verdere tien dae se gevegte geverg maar Botha se magte moes uiteindelik die aftog blaas. Ladysmith is daarna op die 28 ste Februarie 1900 ontset.

 

1 General Louis Botha’s Commando
2 Boksburg Commando
3 Colenso
4 Krugersdorp Commando
5 Wakkerstrom Commando
6 Ermelo Commando
7 Swaziland Police
8 Ermelo Commando
9 British Camp, Chievely
10 Tugela River

Slag van Paardeberg

Die Slag van Paarbeberg was ‘n groot veldslag tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Die slag is naby Paardebergdrif gevoer op die walle van die Modderrivier in die Oranje Vrystaat naby Kimberley.

Die slag het gevolg net na Britse magte Kimberley ontset het na die Boeremagte se beleg van die dorp. Die terugtrekkende Boeremag onder bevel van Piet Cronje is vasgekeer by Paardeberg en tot oorgawe gedwing na ‘n beleg wat gevolg het op ‘n mislukte direkte aanslag teen die Boeremagte deur Generaal Kitchener.

SITUASIE IN FEBRUARIE, 1900 

Veldmaarskalk Roberts is aangestel om die Britse magte in Suid-Afrika aan te voer in Desember 1899 in opvolging van Generaal Redvers Buller(Roberts het op daardie stadium sopas gehoor dat sy seun, Freddy, noodlottig gewond is by die Slag van Colenso.)

Soos Buller, het Roberts hom voorgeneem om ‘n direkte aanslag op die Boererepublieke se hoofstede Bloemfontein en Pretoria te maak deur gebruik te maak van die spoorlyn vanaf Kaapstad vir logistieke steun en kommunikasie. Soos in Buller se geval het hy met sy aankoms in Suid-Afrika ondevind dat die openbare mening in Brittanje en onder die Britse gemeenskap in Suid-Afrika ‘n sterk optrede wou sien om die beleg van Ladysmith, Kimberley en Mafikeng te ontset en het daarom sy planne verander.

‘n Vroeëre poging deur die Britte om Kimberley te ontset onder bevel van Lord Methuen is deur die Boere onder Generaal Cronje teengestaan. Cronje saam met Generaal De la Rey en sy Transvaalse burgers kon nie daarin slaag om die Britte se opmars tydens die Slag van die Twee Riviere by die sameloop van die modderrivier en die rietrivier reg langs die spoorlyn stuit nie. Die Britse opmars is egter tot ‘n stilstand gedwing na die Slag van Magersfontein en is die Britte gevoelige verliese toegedien. Verder het baie van die Boerekrygers se familie by hulle aangesluit by die hooflaer te Jacobsdal. Die teenwoordigheid van nie-vegtendes en die stadige ossewaens sou uiteindelik bydrae tot Cronje se neerlaag.

BRITSE STRATEGIE 

Roberts het ‘n baie versterkings lang die spoorlyn tussen die Oranjerivier en die Modderrivier gekry. Sy mikpunt was om die Boere se flank te omsingel en sy kavellerie daarom te laat beweeg ten einde Kimberley te ontset, terwyl sy infanterie die belangrike driwwe agter hulle sou beveilig. Roberts het twee infanteriedivisies elkeen met twee infanteriebrigades en ‘n berede afdeling wat uit drie brigades bestaan het onder bevel van Generaal French gehad. ‘n Ander infanterie-afdeling is tydens die veldtog tot stand gebring.

DIE ONTSETTING VAN KIMBERLEY 

Terwyl die Highland Brigade onder bevel van Majoor-Generaal Hector MacDonald die Boere te Magersfontein se aandag afgelei het, het Roberts se groot mag in die geheim begin om in die ooste op te mars op die 11deFebruarie. Die aand van 12 Februarie het sy magte die driwwe oor die Rietrivier beset. Op die volgende dag het die Britse berede mag ‘n 30 myl lange mars in versengende hitte uitgevoer om die driwwe by die Modderrivier te beset. Die opmars het die Boere onverwags betrap en hulle was nie daartoe in staat om die driwwe en omringende koppe te verdedig nie.

Vroeg op 15 Februarie het French se afdeling die finale tog aangepak om Kimberley te ontset. Hulle het slegs verspreide en sporadiese teenstand van die Boere gekry en die groot mag het deur die dun Boerelinies gedring. Daar word vertel dat French protokol verontagsaam het en nie eerste by die militêre bevelvoerder van die beleërde garnisoen aangemeld het nie maar wel by Cecil John Rhodes by die dorp se grootste hotel.

Die finale opmars het French se afdeling uitgeput, veral omdat sy kavellerie te veel toerusting saamgedra het en futiele pogings om een van die Boere se 155 mm Creusot kanonne (met die bynaam “Long Tom” gedoop) te probeer onderskep.

CRONJE SE VERSKUIWING NA PAARDEBERG 

Op die 15de Februarie het Cronje se burgers, sowat 5 000 Transvalers en Vrystaters uiteindelik hulle laer te Jacobsdal verlaat. Hulle stellings was nou nutteloos en hulle was in gevaar om omsingel te word. Op die nag van die 15de het ‘n groot konvooi tussen die agterhoede van French se afdeling en die buiteposte van Luitenant-Generaal Thomas Kelly-Kenny se afdeling by die driwwe van die Modderrivier deurgemasjeer. In die daaropvolgende dag het die Boere se agterhoede verhoed dat die Britse 6de afdeling hulle inhaal. Op die 17de het ‘n groot konvooi Boerewaens Paardebergdrif op die Modderrivier bereik. Hulle was op die punt om die rivier oor te steek toe ‘n Britse berede mag hulle uit die Noorde aangeval en afgesny het.

Cronje het toe besluit om ‘n laer te trek en langs die oewer van die Modderrivier in te grawe. Die Britse magte het aangegroei en die Boeremagte in getalle by verre begin oortref met oorweldigende artillerie tot hulle beskikking. Die Britte sou dus die Boere maklik tot oorgawe kon dwing deur hulle te beleër en te bombardeer. Generaal Christiaan de Wet wat slegs sowat 30 myl verder weg was, het die besluit van Cronje skerp gekritiseer veral omdat daar na sy oordeel nie voldoende Britse kavellerie beskikbaar was om hulle te stuit nie en sou hulle by sy magte en die van Hoofkommandant I.S. Ferreira kon aansluit wat ook ‘n sootgelyke afstand ten noorde van Cronje was as hulle aanhou beweeg het.

BLOEDIGE SONDAG 

Luitenant-Generaal Thomas Kelly-Kenny van die Britse 6de afdeling was van plan om Cronje se magte te beleër en met bombardemente tot oorgawe te dwing. Dit sou waarskynlik geslaag het en die Britse baie minder ongevalle besorg het. Roberts was egter siek en sy Stafhoof, Luitenant-Generaal Herbert Kitchener, was in bevel van die Britse mag en het met ‘n ander plan vorendag gekom.

Daar bestaan ‘n moontlikheid dat Kitchener bewus was dat die Vrystaatse Boere onder leiding van De Wet op pad was na Paardeberg om Cronje te ontset, wat dalk sy haastige optrede kan verklaar. Hy het beveel dat Cronje se stellings onmiddelik bestorm moes word. Kitchener het toe met sy infanterie en berede troepe ‘n reeks ongekoördineerde trompop aanvalle teen die Boerelaer geloods.

Dié het hy gedoen ten spyte van die verliese wat die Britte voorheen as gevolg van sulke aanvalle teen Boeremagte wat goed ingegrawe was, gelei het. Die resultaat was hierdie keer dan ook nie anders nie. Die Britse soldate is afgemaai en daar word gereken dat nie ‘n enkele Britse soldaat tot nader as 200 treë van die Boerelinies kon vorder nie. Teen sononder was daar 24 offisiere en 279 soldate gedood en 59 offisiere en 847 gewonde soldate aan die Britse kant. Dit was een van die gevoeligste verliese wat die Britte tot op daardie stadium in die oorlog gelei het en het alomweë as Bloody Sunday in Britse kringe bekend gestaan.

Kitchener het nie net sy soldate se lewens vermors nie, maar ook sy strategiese voordeel prysgegee. ‘n Nabygeleë kop is slegs lig verdedig wat De Wet in staat gestel het om die kop in te neem. De Wet was nou in staat om die Britse stellings lastig te val. Teen sononder het Kitchener sy soldate beveel om in te grawe waar hulle is. Nie almal het egter die bevele gekry of gehoorsaam nie en die Britse soldate wat dors en uitgeput was het teruggekeer kamp toe. Dit het al hoe meer waarskynlik begin lyk asof Cronje sou kon ontsnap.

Aan die Boerekant het dinge ook egter nie goed gelyk nie. Cronje en sy burgers was al dae lank op die vlug en die bombardement het ongeveer ‘n 100 sterftes en 250 gewondes tot gevolg gehad. Die perde, osse en waens wat nie beskut was nie het egter nog erger daaronder gely. Baie waens en ammunisie is vernietig. Die verliese het veroorsak dat die moraal van Cronje se laer baie laag was.

DIE BELEG 

Met sonsopkoms het Generaal Roberts op die toneel opgedaag. Hy het aanvanklik die voortsit van die trompaanvalle voorgestaan maar die veldslag is onderbreek omdat Cronje wou onderhandel het oor ‘n skietstaking om dooies te begrawe, ‘n versoek wat die Britte geweier het. Die onderhandelinge het egter die grootste deel van die dag in beslag geneem wat enige verdere aanvalle daardie dag onmoontlik sou maak. Die daaropvolgende dag wou Roberts en Kitchener weer aanval maar hulle is deur die senior Britse offisiere teengestaan. Teen die Woensdag het Roberts al oorweging daaraan begin skenk om te onttrek. Gelukkig vir Robberts het De Wet se eerste bes gegee en sy kommandos onttrek. Ferreira se kommando is leierloos gelaat nadat hy per ongeluk deur een van sy eie verspieders doodgeskiet is. De Wet het onttrek nadat Cronje halstarrig geweier het om ‘n poging aan te wend om uit te breek.

DIE OORGAWE 

Die bombardement van Cronje se stellings het toenemend feller geword soos meer en meer Britse kanonne (insluitende 5 duim howitzers en ander 1-ponder “pom-pom” gewere) bygekom het. Bykans elke perd, donkie en os is doodgeskiet en die verrottende stank en vlieë het dit vir die Boere onhoudbaar gemaak. Op die vooraand van die laaste dag van die veldslag het die Royal Canadian Regiment, wat op daardie stadium reeds 70 ongevalle gely het, nader aan die Boerestellings gekruip en hulself skaars 65 tree van die Boerelinies af ingegrawe. Op 27 Februarie 1900 het Cronje se kommando onder hierdie hernieude druk oorgegee. Daarmee is die laaste kommando tussen die Britse magte en Bloemfontein, die hoofstad van die Vrystaat, verwyder. Cronje het met ‘n mag van 4 019 man en 50 vrouens oorgegee. Dit was die eerste groot oorwinning deur die Britte oor die Boeremagte (vorige neerlae by Twee Riviere, Graspan en Belmont kan in sekere opsigte as strategiese onttrekkings beskou word). Hierdie oorgawe was egter ‘n baie gevoelige slag aangesien die aantal manskappe wat gevange geneem is bykans 10% van die Boere se weerbare leër verteenwoordig het.

Aan Boerekant is Cronje skerp gekritiseer oor sy beslissings en aan die Britse kant is Kitchener ook skerp veroordeel oor die manier waarop hy Britse soldate se lewens verspil het. Waar hy voorheen as die held van Khartoum (Kitchener of Khartoum) bekend gestaan het is hy in sekere kringe Kitchener of Chaos genoem.

Bron: Wiki

SLAG VAN MAJUBA

Die Slag van Majuba was die laaste van vier militêre botsings tussen Groot-Brittanje en die Boere van Transvaal gedurende die Eerste Vryheidsoorlog (Desember 1880 – Maart 1881. Dit het op 27 Februarie 1881 plaasgevind. Die klinkende en vernederende oorwinning wat die Boere behaal het, het die Britte gedwing om Transvaal weer sy vryheid te gee, nadat dit op 12 April 1877 geannekseer is (‘n verbreking van dieSandrivier-konvensie van 1852).

Na die Britse anneksasie van Transvaal het die Boere op 8 Desember 1880 te Paardekraal (wat later Krugersdorp geword het) tydens ‘n protesvergadering die onafhanklikheid van Transvaal uitgeroep. Dit was die begin van die Eerste Vryheidoorlog. Die Boere het al die Britse garnisoene onder beleg geplaas en die eerste militêre botsing by Bronkhorstspruit oortuigend gewen.

Generaal-majoor Sir George Pomeroy Colley was die opperbevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika, asook die goewerneur van Natal en Hoë Kommissaris oor die Britse Kolonies in Suidelike Afrika, ‘n briljante man met ‘n uitstekende militêre rekord en voormalige professor aan dieSandhurst Militêre Akademie in Engeland. Hy het ‘n opmars van Natal na Pretoria begin om die garnisoene te ontset. Hy het met 1200 troepe kamp opgeslaan op die plaas Mount Prospect, suid van Laingsnek.

Laingsnek was ‘n strategiese plek waar die roete tussen Pietermaritzburg (in Natal) en Pretoria (in Transvaal) oor die Drakensberge gegaan het. ‘n Boeremag van 1500 man onder Kommandant-generaal Piet Joubert het hulle op die lang rug van Laingsnek, net oos van Majuba, ingegrawe om Colley se opmars te stuit.

Op 28 Januarie 1881 (Die Slag van Laingsnek) het Generaal Colley se magte probeer om Laingsnek te verower, maar moes die aftog blaas nadat Kolonel Deane en baie van sy troepe gesneuwel het. Op 8 Februarie 1881 (Die Slag van Ingogo, ook bekend as die Slag van Skuinshoogte) het Colley se troepe weer onsuksesvol met die Boere onder Generaal Nicolaas Smit slaags geraak.

Hierna het Colley nog 2000 troepe van Newcastle laat kom en die plan bedink om die berg Majuba te beset, vanwaar hy kon neerkyk op die Boere se stellings by Laingsnek. Die Britte het die berg gedurende die nag van 26 Februarie uitgeklim. Daar was 405 Britse soldate op die berg, insluitend 171 van die 58ste Regiment en 141 van die 92ste Regiment (die 92nd Highlanders). Teen dagbreek om 04:30 is soldate rondom die kruin van die berg uitgeplaas. Die Gordon Highlanders het die noordelike en noordwestelike kruin beset, asook Gordon se koppie (Gordon’s Knoll), een van drie koppies bo-op Majuba.

Daardie Sondagoggend het die Boere onmiddelik nadat hulle die Britse soldate op die berg gesien het, planne beraam om dit te bestorm. Generaal Nicolaas Smit, die bevelvoerder, het vrywilligers gevra en drie afdelings is gevorm onder leiding van kommandant Joachim Ferreira, assistent-veldkornet Fanus Roos en assistent-veldkornetDanie Malan. Generaal Smit het opdrag gegee dat die manne bo 50 agter die rotse van die eerste plato moes bly skuil en na elke Engelsman wat sy kop oor die boonste rand uitsteek, moes skiet. Dit het dit moontlik gemaak vir die res van die Boere om onder vuurdekking tot reg onder die kruin te kom, wat hulle net voor die middaguur, na ‘n klim van ses uur, bereik het.

Intussen het Colley opdrag gegee dat die berg vir ten minste drie dae verdedig moes word en het hy en baie van die troepe wat dwarsdeur die nag die berg uitgeklim het, verlore slaap ingehaal.

Die berg Majuba

Teen 12:45 het die Boere met hewige geweervuur op Gordon se koppie losgebars en dit verower. Gedurende die volgende uur, het die Boere oor die kruin gestroom en die Britte met akkurate skietwerk groot veliese toegedien. Daar was groot verwarring en die Britte het na die suidekant van die bergtop begin vlug. Generaal Colley is bokant sy regteroog raakgeskiet en is op die berg oorlede. Die res van die Britse mag het oor die agterste kruin gespring en is beseer, geskiet of gevange geneem.

Van die Britse soldate het 92 gesneuwel, 134 is gewond en 59 is gevange geneem. Slegs een van die Boere (H. Bekker) het daardie dag gesneuwel (‘n tweede een, J. Groenewald, het later aan sy wonde beswyk) en ses ander is gewond. Dit toon die verskil tussen die Britte en die Boere se kamoeflering en skietvernuf.

Die veldslag het daartoe gelei dat die Britse bevelvoerders op 21 Maart 1881 ‘n vredesooreenkoms geteken het.

Alhoewel daar nie baie soldate betrokke was nie, was die veldslag belangrik, om die volgende redes:

  • ‘n Vredesooreenkoms is geteken, wat later tot die Pretoria Konvensie tussen die Britte en die jong Suid-Afrikaanse Republiek gelei het en die Eerste Vryheidsoorlog beëindig het.
  • Naas Bloedrivier, was die veldslag van Majuba vir die Boere die belangrikste in hulle geskiedenis, want dit het hulle eie volksbestaan bevestig en hulle die selfvertroue en nasietrots in hulle taal en kultuur gegee wat gelei het tot latere taalbewegings en weerstand teen Groot-Brittanje tydens die Tweede Vryheidsoorlog.
  • Die vuur-en-bewegingstaktiek wat Generaal Smit en die Boere gebruik het tydens die bestorming van die berg, was ‘n nuutjie en is eers jare later deur ander leërs gebruik.
  • Die Britte het die vier volslae nederlae (Bronkhorstspruit, Laingsnek, Skuinshoogte en Majuba) nie vergeet nie en dit het waarskynlik gevolge gehad tydens die Tweede Vryheidsoorlog, beter bekend as die Anglo-Boereoorlog van 1899 – 1902. “Remember Majuba!” het ‘n strydkreet geword.

Meer ………..

Die veldslag van Majuba en die betekenis daarvan

Intussen het mev. Hendrina Joubert, die generaal se vrou, ook die vyand op die berg gewaar.  Binne enkele minute was die Boerekamp in spanning.  Piet Joubert jaag self langs die lang linie en roep sy offisiere op.  Hy vind sy twee generaals Frans Joubert en Nicolaas Smit besig om te twis oor wie se skuld dit was dat die Engelse op die berg gekom het.  Piet Joubert duld egter geen woorde meer nie en met sy skerp hoë stem kom die bevel: “Die Engelse is daar bo en julle gaan hulle daar afhaal … dadelik!”

 En toe volg daar een van die meer briljante strategiese beplanning in die militêre geskiedenis.  Generaal Nicolaas Smit se bevele binne enkele minute is eenvoudig verstommend.  ‘n Engelse navorser skryf:  “Everything was planned by general Smit with Napoleonic facility and speed”  [Ransford].  Geen onduidelikheid nie:  “Ek het 150 manne nodig om die berg te bestorm.  Al die ander stellings moet behou word”.  Let op generaal Smit se woorde.  Hy sê nie “julle wat dapper is volg my nie”, maar:  “Julle wat geen lafaards is nie, volg my”!

 Die afdelings het die berg bestorm:  In die middel reg na bo assistant-veldkornet Frans Roos met sy manne;  regs van hom kommandant Joachim Ferreira met sy manne en links assistant-veldkornet Danie Malan met sy manne.  Aan die manne bokant 50 jaar word bevel gegee om agter die rotse van die eerste plato teen die steilte stelling in te neem.  “As ‘n Engelsman daar bo-op die berg sy kop uitsteek, dan skiet julle”!  Hierdie ouer manne was die ervare skuts.

 Die Boere se taktiek was meesterlik.  Dit het eenvoudig al die Engelse militêre handboeke oortref – ons kan feitlik sê “oorskryf”.  Die gebruikmaking van “dooie grond”, dit wil sê waar die vyand jou nie kan sien nie en kruisdekking met akkurate vuur, was dodelik.  Generaal Smit se strategie was die van vuur en so vinnig soos moontlik onder hierdie dekking vorentoe beweeg.  Nie almal gelyk nie, maar twee-twee, selfs een-een van struik tot struik, van rots tot rots.  Feitlik ongesiens het die Boere in ‘n lang halfmaan rondom die Majubakruin al nader en nader beweeg.  Dit was met ‘n ongelooflike geduld vir ses ure lank.  En tog was elke beweging met blitsige spoed.  Teen elfuur se kant was die voorstes alreeds onder die regop kranse van die kruin.  Van die rand van die plato onder hierdie kranse kom daar, sodra daar beweging bo-op die kruin is, elke keer sarsies vuur van die manne bo 50 jaar.

 Intussen leef generaal Colley en sy offisiere in die grootste waan oor die toestand.  Triomfantlike boodskappe word met vlae en Heliograafseine na Mount Prospect gestuur.  Onder andere laat Colley hulle weet:  “Alles is wel.  Die Boere mors hulle ammunisie en is besig om hulle waens op te pak … Een van ons manne is in sy voet gewond…”

 Vir ure lank het die Britte geen besef van die Boere se geniale militêre vernuf nie.  Hulle het ook geen besef dat die Transvalers bereid is om ‘n duur prys vir hulle landsvryheid te betaal nie.  Hulle weet ook niks van die Boere-gedetermineerdheid toe generaal Joubert gesê het:  “Tot sover en nie verder nie”!

 DIE BETEKENIS VAN MAJUBA

 In omvang en getalle was die veldslag van Majuba eintlik klein.  In vergelyking met groot verdslae in die wêreldgeskiedenis, was dit skaars ‘n skermutseling van enkele ure.  Maar die betekenis van Majuba was vir Suid-Afrika onoortreflike:  Die magtigste wêreldmoondheid, Groot Brittanje met sy baie kolonies as ‘n Verenigde Koninkryk onder die Union Jack, is tot in sy fondamente geskud.  Lord Carnavon se Federasie-politiek vir die subkontinent van Afrika het ‘n nekslag gekry. 

Naas Bloedrivier was die veldslag van Majuba vir die Boere die belangrikste in hulle geskiedenis.  Die betekenis is onberekenbaar: 

  1. Afrikaners met hulle eie identiteit van taal en kultuur en ‘n eie volksbestaan soos alle ander volke in die wêreld, het met Majuba, ‘n voldwonge feit geword.

2. Die Britse politieke beleid in Afrika moet ingrypende aanpassings maak.  Sy kolonialisme het ‘n nuwe dimensie gekry.

Maar helaas, Majuba het die grootste wraak van Groot Brittanje wat nog ooit teen die klein Boerevolkie gepleeg is, ontketen.  Die Britse trots kon nooit die vernedering van Majuba verwerk nie.  Koningin Victoria het met verbittering uitgeroep:  “I do not like peace before we have retrieved our honour”.  “Remember Majuba!”  het die Engelse se nuwe strydkreet geword.  Die oorlog van 1899 – 1902 tussen Boer en Brit het vir byna drie jaar op ‘n massale bloedvergieting uitgeloop.  Thomas Pakenham, ‘n Britse outoriteit oor die Tweede Anglo-Boere oorlog skryf die volgende:  “Milner’s little” “Armageddon” had cost the British taxpayer more than £ 200 million.  The cost in blood was equally high.  The War Office reckoned that 400 346 horses, mules and donkeys were “expended” in the war.  There were over a hundred thousand casualties of all kinds among the 364 693 imperial and 82 742 colonial soldiers who had fought…  On the Boer side, the cost, measured in suffering, was relative much higher.  It was estimated that there were over 7 000 deaths among the 87 365 Boers who foughs for the two republics”  [Pakenham:  The Boer War, 1993. p. 287].  Aan Boerekant het ook nog 26 251 vroue en kinders in 45 konsentrasiekampe gesterf.  Ook 30 000 Boerewonings en plase is in Transvaal en die Vrystaat totaal verwoes [Ensiklopedie van die Wêreld”  Stellenbosch, 1974, deel 6, p. 204]. 

Bron: Wiki

Slag van Magersfontein

Die Slag van Magersfontein het ‘n beroemde oorwinning geword vir die Boeremagte tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Hierdie slag het een van ‘n driestuks neerlae deur die Britse magte (saam met Colenso en Stormberg) uitgemaak wat in Brittanje as die Swart Week bekend gestaan het. Die slag het gevolg na drie opeenvolgende nederlae (Belmont, Graspan en Twee Riviere (aan die Engelse bekend as die slag van modderrivier) wat deur die Boeremagte gelei is in hul poging om Lord Methuen se opmars om Kimberley te ontset, te stuit.

AANLOOP TOT DIE GEVEG 

Die geveg het gevolg op die veldslae by Belmont en Graspan waar die Boere die tradisionele gevegstaktiek gebruik het deur die hoër grond in te neem. Generaal De La Rey (wat betrokke was by die beplanning van Magersfontein) het egter hieruit geleer dat die hoë grond die aanvalsmag bevoordeel het deurdat die koppe ‘n duidelike teiken vir grofgeskut was en selfs belangriker dat die hoek van vuur dit moeiliker gemaak het om voldoende verliese toe te dien om ‘n aanval te stuit. De La Rey het daarop sy taktiek aangepas en hierdie lesse toegepas met die keuse van sy volgende verdedigingslinie by die sameloop van die Modder- en Rietriviere. Hier het sy burgers hulself in loopgrawe en skuilgate ingegrawe sowat 50 tot 100 meter aan die voorkant van die rivier met die opgeblaasde spoorbrug as die middelpunt van die linie. Tydens die veldslag op 28 November is die Britse magte gevoelige verliese toegedien maar die regterkantste flank van die verdediginglinie is oorrompel en is die Boeremagte genoodsaak om hulle posisies in die nag te ontruim.

‘n Hewige rusie oor waar om volgende in te grawe en te veg het tussen Generaal De La Rey en Generaal Piet Cronje ontstaan. Generaal Cronje was ten gunste daarvan om die heuwels by Spytfontein in te neem, maar De La Rey was van mening dat grondvlak verdedigingsposisies by Magersfontein meer doeltreffend sou wees. De La Rey het geredeneer dat Spytfontein te kwesbaar was vir ‘n Britse Artillerie-aanval vanaf die Magersfontein koppies. Die dooiepunt tussen die twee generaals is deur President Steyn, wat De La Rey se taktiek gesteun het, gebreek tydens ‘n krygsraad wat op 4 Desember gehou is.

VOORBEREIDINGS VIR DIE GEVEG

Die Boeremagte het die 9thLancers wat die Magersfonteinkoppe as verkenningspos gebruik het, gedwing om die posisie te ontruim, wat dit vir die Britse magte moeiliker gemaak het om die Boere se posisies te verken. Die Boere se verdediginglinie het gestrek vanaf die westekant van die spoorlyn by Langberg deur Magersfontein tot by Mossdrif aan die Suidoostekant van die Modderrivier. Van die verdedigingsposisies veral by Langberg was op hoë grond geleë met die grootste deel daarvan op grondvlak. Die verdediginsposisies het hoofsaaklik uit grondwalle, skanse (lae klipmure) en ‘n enkelry loopgrawe naby die suidwestelike voet van Magersfonteinkop bestaan. ‘n Gaping in die verdedigingslinie net oos van Magersfonteinkop het ontstaan omdat die Boeremagte genoop was om hulle magte te konsentreer op die mees waarskynlikste aanvalspunte (flankaanvalle). Die Britse bombardement van Magersfonteinkop op die negende en tiende Desember het dit egter duidelik laat blyk dat Magersfonteinkop die middelpunt van die aanval sou wees. Die bombardement het ook nie die gewenste demoraliserende impak op die boeremagte gehad nie omdat dit hoofsaaklik op die kop self gekonsentreer was en is slegs 3 burgers gewond ten spyte van die feit dat soveel as 31 kanonne op die tiende op die kop losgebrand het. Daar is toe begin om die gaping met sandsakke te versterk en hierdie werk was skynbaar nog onderweg toe die geveg begin het. Daar bestaan egter onsekerheid oor die omvang van die sandsak skanse tydens die geveg.

Hierdie frontaanvalstaktiek van Methuen is deur Wauchope bevraagteken maar hy het geen ondersteuning van die ander senior Britse offisiere (Pole Carew en Colville) gekry nie. Die Boeremagte was egter voorbereid en op die nag van die tiende het hulle brandwagte voor die linie geplaas om hulle te waarsku as ‘n Engelse opmars bespeur sou word. Een van hierdie groepe in die voorhoede was die Skandinawiese vrywilligers onder bevel van Kaptein Flygare. Hulle het ‘n waarnemingspos op “Horse Artillery Hill” beman wat hulle in staat sou stel om ‘n opmars na “Scrub Ridge” te hoor.

DIE VELDSLAG 

Majoor George Benson het die bevel gekry om die Highland Brigade te lei na ‘n punt sowat 700 meter suid van Magersfontein se suidpunt (spur) en om die punt rondom 3 uur in die oggend te ontplooi vir ‘n aanval net voor eerstelig. Die beroemde Black Watch regiment was aan die voorhoede van die opmars en sou die heel regterkantste flank van die aanval uitgemaak het met die Seaforths aan hulle linkerflank en die Argyll en Sutherland Highlanders aan die Seaforths se linkerkant. Drie Infanterie artillerie batterye en ‘n berede artillerie battery sou artillerie ondersteuning verskaf het. Die Britse kolonne het in geslote gelid gemarsjeer wat meegebring het dat sowat 3500 man in ‘n gebied so min as 40 meter diep en 160 meter breed ingepas is.

‘n Donderstorm gedurende die nag het die Britse opmars vertraag en ook veroorsaak dat hulle sowat 500 meter te ver links vanaf die beoogde ontplooiingspunt was. Ten spyte van Majoor Benson se aanbeveling aan Wauchope om die manne te ontplooi het Wauchope besluit om voort te marsjeer. ‘n Ry swarthaak bosse het hulle opmars verder vertraag en eers nadat die Black Watch hulle pad daardeur oopgebeur het, het Wauchope die bevel gegee om te ontplooi. Om vir die afwyking te vergoed het Wauchope die Seaforths beveel om die posisie regs van die Black Watch in te neem en die Argyll- en Sutherland Highlanders om verder regs van hulle te ontplooi. Baie van die manne het egter in die donker van hulle eenhede afgedwaal en sou onbewus gewees het van die veranderinge in die planne en het waarskynlik bygedra tot die verwarring tydens die gebeure wat daarop gevolg het.

Die Boere brandwagte sou ongetwyfeld die opmars gehoor het en het hul mede-burgers gewaarsku dat die Britse opmars onderweg was. Dis onseker watter gebeurtenis die Boereskuts laat losbrand het. Sommiges reken dit was die die klank van bajonette wat gemonteer is wat die Boere oortuig dat die Britte naby genoeg gekom het en daar word vertel dat ‘n lantern op die kop uitgedoof as teken om te begin vuur. Conan Doyle sê in sy boek dat ‘n Boer wat by die geveg betrokke was aan hom gesê het dat dit die klank van verklikkers (blikkies wat aan drade gebind was) wat hulle laat skiet het. ‘n Hewige vuur is op die Britse troepe losgelaat veral vanaf die Kroonstad en Hoopstad kommandos wat in loopgrawe skaars 400 m voor die Britte ingegrawe was. Chaos het in die Britse kolonne ontstaan en is baie van die troepe is binne die eerste paar minute van die geveg getref (Volgens Conan Doyle soveel as 700 binne die eerste 5 minute). Wauchope het die Black Watch saam met ‘n groep van die Seaforths beveel om die “gaping” en die Sandsaklinie te storm maar kon nie meer as 40 m vorder nie en het groot verliese in die proses gelei. Generaal Wauchope en Kolonel Coode van die Black Watch het ook binne die eerste paar minute van die geveg gesneuwel. Teen hierdie tyd het dit al begin lig word en het die verliese begin toeneem onder die vegtende voorhoede wat op die grond met min beskutting neergepen was. Onder die agterhoede wat nog besig was met ontplooiing het paniek uitgebreek en het sowat 250 m teruggeval.

Die Skandinawiese Korps wat agter klein rotse en skanse ingegrawe was op ‘n voorwaartse verkenningspos wat later deur die Engelse “Horse Artillery Hill” gedoop was, het hulself aan die regterkantste flank van die Highlanders bevind. Toe die Highlanders begin terugval en in hulle rigting begin uitwyk het, het hulle hewig losgebrand op die Highlanders. Hulle posisie is bestorm en omdat hulle geïsoleer geraak het van die ander Boeremagte is hulle oorweldig en is die korps geheel en al uitgewis (‘n Monument ter nagedagtenis aan hierdie dapper vegters staan vandag daar op “Horse Artillery Hill”).

Drie groepe Highlanders het daarin geslaag om deur die “gaping” te breek en het die agterste helling en nek tussen die kop en die rif begin bestyg. Die eerste twee groepe onder ‘n Kaptein Macfarlan en ‘n Luitenant Cox moes egter terugval toe hulle onder vuur gekom het vanaf die burgers op die kruin van die kop. ‘n Derde groep onder leiding van ‘n Luitenant Wilson van die Seaforth Highlanders het goed gevorder maar in die swak lig hulself misgis en ‘n groep vasgemaakte perde vir Boere aangesien en die meeste van hulle doodgeskiet (en sodoende hulle posisie verklap). Kommandant Diedericks het sy Ladybrand kommando wat sopas daar aangekom het, het ‘n deel van sy groep gestuur om die “gaping” toe te maak en die Britte op die kop van agter begin aanval. Kommandant Diederichs is tydens hierdie beslissende aanval gedood asook Generaal Christiaan de Wet se oudste broer. Colville se Guards Brigade is hierna deur senior offisiere by “Headquarters Hill” gelas om “Scrub Hill” in te neem en dan vandaar die “gaping” in die Boerelinies aan te val. Die aanval is egter hier gestuit. Na verdere bombardemente het Methuen in ‘n desperate poging om die loop van die geveg te verander, sy laaste beskikbare reserwes, die Gordon Highlanders onder ‘n Luitenant-Kolonel Downman beveel om ‘n front-aaval op die Boere loopgrawe te doen om die troepe wat op die vlakte voor die Magersfontein hoogtes vasgepen is te versterk. Hulle is egter elke keer as hulle opgestaan het om te storm gevoelige verliese toegedien deur akkurate vuur uit die loopgrawe en is uiteindelik ook op die vlakte neergepen.

Op hierde stadium toe dit duidelik word dat die Langberg deel van die linie geen bedreiging in die gesig gestaar het nie, het die Potchefstroom Kommando onder bevel van Generaal Andries Cronje hulle posisies ontruim en onder leiding van Generaal Naas Ferreira agter “Scrub Ridge” posisie ingeneem om sodoende die Vrystaatse kommando’s te versterk. ‘n Dapper teenaanval deur Ferreira is toe begin om besit te neem van die grond tussen die Highlanders by “Horse Artillery Hill” en “Scrub Ridge” en die Highlanders wat voor die loopgrawe vasgepen was onder hewige bombardement van kanonne waarvan die vuur deur verkenners in ‘n balon gerig is. (Baie kritiek is uitgespreek oor Methuen se besluit om die aanval te loods voordat die balon in plek was om die Boereposies te kon bespied.)

‘n Poging van Luitenant-Kolonel Hughes-Hallet om hierdie dreigende wig wat Ferreira se aanval in die linies toe te stop is verkeerdelik deur die Highlanders as ‘n algemene ontrekking geïnterpreteer en het hulle oraloor op die vlug begin slaan. Hierdie aksie het die Boere ‘n uitstekende teiken verskaf en die Highlanders is verdere gevoelige verliese toegedien. Die Boere se 75 mm Krupp kanon bo-op Magersfontein kop wat die heeldag stil was het ook op die stadium losgebrand en verdere chaos en verwarring onder die Highlanders gesaai. Die oorblywende Highlanders het agter “Headquarters Hill” stelling ingeneem en rondom 4 nm. het die slagveld stil geword. Die Britse gewondes voor die loopgrawe is deur die Boere toegelaat om sonder hulle wapens die veld te verlaat en die Britse mediese korps het die grootste deel van die nag gespandeer om dooies en gewondes van die veld te verwyder. Die Britte het egter nie onttrek nie in die hoop dat die Boeremagte soos by Magersfontein in die donker sou onttrek. Dit het egter nie gebeur nie en is ‘n algemene skietstilstand rondom 9 vm. op die oggend van die 12de verklaar sodat gewondes wat hulself nog steeds op die slagveld bevind het verwyder kon word. Teen namiddag moes Lord Methuen noodgedwonge die neerlaag aanvaar en het hy na Modderrivierstasie teruggetrek.

Enkele maande voor die oorlog uitgebreek het, het generaal Piet Joubert 30 000 Mausers en ’n aantal moderne veldkanonne en outomatiese wapens van Krupp en Creusot aangekoop. Die Boere was entoesiasties, en reg om die Britte te verdryf. “Vertrou in God en die Mauser!” het hulle slagspreuk geword.

Die Slag van Bloedrivier (16 Desember 1838)

Andries Pretorius word ontbied
Die moord op Piet Retief en sy geselskap, die slagting van die Trekkers by Blaauwkrantz, die mislukte Italeni-ekspedisie en die onveilige en onsekere situasie in Natal, laat Maritz en sy mense besin oor leierskap, en veral ‘n militêre aanvoerder. Gert Maritz stuur Frans Hattingh, ‘n neef van Pretorius, Sarel Celliers en nog ‘n Trekker na Letskraal1 naby Graaff-Reinet met die dringende pleidooi om die Trekkers te kom help. Nadat Pretorius vir Hattingh deeglik ondervra het, stuur hy sekere opdragte saam met hom. Die trekkers moes, onder andere, veghekke maak vir die voorgenome laer wat as basis sou dien vir die kommando se aktiwiteite – om voorsiening te maak vir die afwesigheid van doringbosse.

Pretorius word aangestel as hoofkommandant
Op 22 November 1838 kom Pretorius by die laer aan die Klein Tugela aan. Op 25 November stel die Volksraad,2 wat in die hooflaer byeenkom, hom as hoofkommandant3 aan. Onmiddellik na die vergadering word ‘n krygsraad gehou en twee dae daarna, op 27 November 1838 vertrek Pretorius met sy kommando van 468 Afrikaners 4,sowat 60 swartes (wat deur Alexander Biggar saamgebring is) en ‘n aantal gekleurde bediendes in die rigting van Dingane se hoofstad. Andries Pretorius besluit dat die kommando met 64 ossewaens laer sal trek, eerder as om die Zoeloes in die oop veld te perd aan te durf. Pretorius word bygestaan deur kommandant Karel Landman*, sy tweede in bevel, en kommandante Piet Jacobs, Koos Potgieter, Hans de Lange en Stephanus Erasmus.

Kommandant Pretorius roep sy kommandante, veldkornette en manskappe bymekaar. Elke offisier en manskap kry instruksies oor wat presies van hulle verwag word. Pretorius dring aan op totale gehoorsaamheid en geen teëpratery en die kommando word aangespoor tot manmoedigheid, versigtigheid en eensgesindheid.5 Hy gee opdrag dat geen vroue en kinders in die toekomstige gevegte geskaad word nie. Kommandant Landman spreek ‘n paar woorde en vra Sarel Cilliers om voor te gaan in gebed. Op hierdie wyse word die lede van die kommando elke dag besiel en afgerig om binne minder as drie weke in ‘n merkwaardige krygseenheid te ontwikkel.

Die optog na Bloedrivier
Die Tugela is in volle vloed dus steek die kommando die rivier oor by sy bolope naby Spioenkop en die eerste laer word aan die oorkant van die Tugela getrek. Kommandant Pretorius beduie in besonderhede hoé die laer van nou af aan opgestel moet word. Elke aand word dus laer getrek, wagte uitgeplaas en inspeksies gehou. Patrollies en verkenners word daagliks uitgestuur, somtyds met Pretorius self as leier. Die waens beweeg in ‘n formasie van vier rye sodat die string nie te lank is nie. Die voor- en agterhoede van die gelid word deeglik beskerm. Elke kommandolid se wapens word in volle gereedheid gehou, nagegaan en weer nagegaan. Afgesien van die patrollies word veldoefeninge gehou, met die manskappe in hulle veldkornetskappe ingedeel, om tug en ordelikheid by elkeen in te skerp. Twee voorlaaier-kanonne, die een genaamd “ou Grietjie” word uitgetoets en gereed gehou. Hier by die Tugela word eers krygsraad gehou gevolg deur ‘n diens gelei deur Cilliers. ‘n Patrollie onder Stephanus Erasmus word daarna uitgestuur om die krale van Joob, ‘n Zoeloe-hoofman wat die afgelope tyd las gegee het, te verken.

Die optog bereik die Kliprivier waar Komdt. Landman en sy groep van 123 man by die laer opdaag. Hulle word vergesel deur Alexander Biggar,6 Edward Parker en Robert Joyce en 100 “mak swartes” van Port Natal. Die Trekkers beweeg nou in ‘n noordelike rigting, noord van die huidige Ladysmith, oor Danskraal en die teenswoordige Biggarsberge en op 5 Desember word kamp opgeslaan by Elandslaagte. Hans de Lange lei ‘n patrollie van drie man om Joob se krale weereens te bespied en moet hulle verdedig toe hulle onverwags midde in ‘n groep Zoeloes bevind. Hulle neem een Zoeloe gevange gevange bring hom laer toe. Ná ondervraging ruk Pretorius met 300 man op na Joob se krale – die swartes het hulle egter intussen uit die voete gemaak. Op 6 Desember vertrek die laer om Waschbank (Sondagsrivier) op 8 Desember te bereik. Hiervandaan vorder die Trekkers oor die berge tot by Zandspruit (die huidige Kliprivier).

Die Gelofte
In hierdie tyd word die Gelofte onder leiding van Sarel Cilliers afgelê waarmee die Trekkers plegtig belowe dat, indien God hulle sou help om die Zoeloemag oorwin, dié dag aan die nageslag bekend gemaak sal word, dat dit gevier sal word ter ere van God en dat ‘n kerk in Sy Naam opgerig sou word.7 Na 9 Desember word die Gelofte elke aand, tot 15 Desember, in die laer herhaal.

Verkenning
Op 11 Desember bereik die kommando die Umzinyathi of Buffelsrivier. Hier kom Pretorius se verkenners die eerste Zoeloe-spioene teë. Parker, met ‘n aantal swart verkenners, dood ‘n Zoeloe in ‘n kort skermutseling. Pretorius besluit om by die Buffelsrivier te vertoef en stuur op 12 Desember twee patrollies uit, een onder leiding van Komdt. De Lange en die ander, bestaande uit swart spioene onder Parker se aanvoering. Laasgenoemde groep kom weer Zoeloes teë, dood een en neem ‘n swart man en aantal swart vroue gevange. Die Zoeloe val Parker aan en dié skiet hom dood. Pretorius skryf sy naam op ‘n wit doek en stuur die vrouens na Dingane met die doek en ‘n boodskap dat die kommando gekom het om hom te straf. Indien hy sy samewerking gee, is Pretorius gewillig om vrede te maak. Indien hy verkies om te veg, moet hy besef dat die witmense nie gaan besgee nie, al neem dit tien jaar.

‘n Patrollie bemerk op 13 Desember ‘n groot aantal Zoeloes naby die laer met ‘n trop beeste. Hierdie lyk na die soort lokval waarin Piet Uys en sy makkers gedood is en op 14 Desember stel Pretorius ondersoek in met 120 perderuiters. Agt Zoeloes word hier in ‘n skermutseling doodgeskiet.

Op Saterdag, 15 Desember, steek die kommando die Buffelsrivier oor en span uit tussen dié rivier en die Ncome,8 ‘n sytak van die Buffels. Twee verkenners, Jan Robbertse en Hans Hattingh, rapporteer dat ‘n groot Zoeloemag ongeveer ‘n halfuur te perd van die Trekkers af saamtrek. Na Pretorius die omgewing bekyk het, word besluit om oorkant die Ncome, aan die weste kant, laer te trek. Hier is ‘n diep seekoeigat en ‘n donga met ‘n baie hoë wal wat ‘n ideale ruimte vir ‘n laer bied. Die kampkommandant, Piet Moolman, kry opdrag om ‘n halfmaanvormige laer te trek met die donga agter die waens. ‘n Geoefende groep van 150 man spring aan die werk terwyl 300 berede manskappe onder Pretorius ‘n kanon in die rigting van die Zoeloes sleep.

Die laer by Bloedrivier
Die waens word só opgestel dat twee kante deur die seekoeigat en die donga beskerm word. Dit maak die laer groot genoeg om diekommando se osse en perde te huisves. Die waens word deeglik met rieme aan mekaar vasgemaak met die veghekke wat elke opening toemaak. Twee smal openinge maak voorsiening vir die perderuiters wanneer hulle die laer sou verlaat en hekke word gereed gehou om hierdie openinge te sluit.

Intussen nader Pretorius, Cilliers en De Lange met hulle ruiters die Zoeloekrygers wat nou sissend neerhurk. Groepe Zoeloes jaag ‘n groot klomp beeste aan in die hoop om die kommando in ‘n hinderlaag te lok. Die trekkers word egter nie om die bos gelei nie en Pretorius hou by sy besluit om nie die impi in die oop veld aan te val nie. Hy verdeel die kommando in groepe van vyftig, vyftig treë van mekaar en paradeer die manne voor die Zoeloemag. Hulle word noukeurig dopgehou maar die Zoeloes val nie aan nie en die kommando vertrek terug laer toe. Pretorius doen inspeksie en laat kerse opsteek wat orals in die laer geplaas word, sommige op lang sweepstokke. Die laaste verkenner daag op met die nuus dat die hele Zoeloemag nader beweeg het en kort anderkant die rivier naby die laer stelling ingeneem het. Na skatting het tussen 10 000 en 15 000 krygers hier saamgedrom onder leiding van Ndlela en Dambuza, gereed vir die aanval op die Trekkers. Dingane was nie teenwoordig nie maar hierdie impi het die room van sy mag verteenwoordig. Twee prinse en verskeie hooggeplaastes uit Dingane se krale het onder die Zoeloekrygers getel.

Die trekkers nuttig aandete, versorg die diere (ongeveer 900 osse en 500 perde), wat in kringe vasgemaak word, en Sarel Cilliers lei die aanddiens en herhaal die Gelofte – vir die laaste keer voor die geveg. Wagte word elke twee uur vervang terwyl dié Trekkers wat wel slaap, volledig gewapen is. ‘n Stilte sak op die laer neer en later word slegs die perde se gesnork en die osse se kreune gehoor.

Die Slag (Sondag, 16 Desember 1838)
Twee ure voor dagbreek is al die manskappe op hulle poste en gewapen. Die kanonne is in openinge opgestel om die geweervuur te ondersteun. Die mistigheid klaar op en ‘n perfekte wolklose en windlose dag breek aan. Die laer is omsingel deur die Zoeloemag met hulle skilde – die voorste linie sit slegs omtrent veertig treë van die waens, met ry op ry krygers agter hulle oor ‘n area van nagenoeg 1000 treë. 

Die Zoeloes sit opgedeel in hulle regimente, elk met sy kaptein; alle oë op Ndlela en Dambuza, wagtende vir ‘n teken om aan te val. Pretorius maan sy manne om nie die groot getalle te vrees nie: “Ons sal oorwin”. Naaste aan die waens is Dambuza se mag opgestel terwyl Ndlela se krygers by die seekoeigat saamgetrek is en nog ‘n groep hulle binne die donga tuisgemaak het.

Kommandant Pretorius besluit om die eerste aanval te loods; op sy teken word die stilte verbreek deur die gedreun van die olifantgewere en snaphane. Drie sarsies word afgevuur terwyl bulderende kanonne, beman deur Bart Pretorius en Joubert, paaie deur die Zoeloes se linies ploeg.

Die kruitrook lê soos ‘n wolk oor die laer en op Pretorius se teken staak die kommando tydelik vuur. Toe die wit kruitdamp ooptrek merk die Trekkers dat die Zoeloes nou 500 treë agter hulle gewonde en gesneuwelde makkers teruggeval het en hoe vars regimente hulle by die impi aansluit.

Die trekkers hoor hoe bevele uitgeskreeu word en sien hoe die voorste krygers hulle assegaaie se stele breek om steekassegaaie te maak. Die Zoeloemag bestorm die laer met onaardse gille, skilde omhoog en assegaaie in gereedheid. Sommige vorder tot baie naby die laer en talle assegaaie tref die waens se seile. Die kommando se geweervuur stop die aanstormende menigte in hulle spore terwyl ‘n aantal Trekkers die beeste en perde wat verwilderd raak, met geweerskote onder beheer bring.

‘n Aantal Zoeloekrygers drom in die donga saam en klim op mekaar se skouers om die Trekkers onder skoot te kry. Sarel Cilliers en ‘n groepie manskappe kry opdrag om hierdie bedreiging vanaf die wal van die donga die hoof te bied. Hulle dood ongeveer 400 krygers in dié skermutseling, maar Philip Fourie word gewond toe ‘n assegaai hom in die dy tref.

Pretorius rig ‘n kanon op Ndlela se regiment en toe die skoot tussen die krygers bars, vlug hulle uit die donga; sommige spring in die seekoeigat terwyl andere by Dambuza se regimente aansluit. Komdt. Jacobs betwyfel Pretorius se besluit om die donga aan te val. Hy voel dat die aanval op die waens só versterk word. Kommandant Pretorius weet egter presies wat hy doen: hoe digter die linie krygers, hoe meer word op ‘n keer raakgeskiet. Pretorius wil nie toelaat dat die laer omsingel word nie en wil probeer om die geveg in die kommando se guns te beklink vóór die ammunisie opraak.

Die Trekkers se geweer- en kanonvuur dryf die Zoeloes weereens terug en die impi retireer tot 500 of 600 treë van die laer. Boodskappers skarrel tussen die aanvoerders terwyl die ou ringkoppe op hulle gemak sit en snuif. Die kommandant se broer, Bart Pretorius word uitgestuur, vergesel van ‘n paar manskappe en ‘n tolk. In ‘n poging om die Zoeloes uit te tart, vra hy: “Wat doen julle nou, manne van Dingane? Ons het gekom om te veg – nie teen weerlose vroue en kinders nie, maar teen manne! Hoekom val julle nie aan nie?” Die krygers sis, maar verder gebeur daar niks. Bart hulle vuur ‘n paar skote in die impi se rigting en keer terug laer toe.

Weer rig Pretorius kanonvuur in die die rigting van die linies. Die Zoeloes spring op en die swart golf rol aan in die rigting van die laer, al trommellende op hulle skilde terwyl hulle gil, fluit en sis. Hierdie aanval is die langste van die hele geveg, maar die Trekkers skiet sarsie na sarsie om honderde krygers te dood of te verwond. Die gewere se lope word só warm dat die manskappe vrees dat dit enige oomblik kan ontplof. Die Zoeloes val weer terug en bly nou buite die Trekkers se skootafstand – hulle verliese is geweldig en die aanval was sonder enige sukses. Die geveg duur nou bykans twee ure en die blaaskans word verwelkom terwyl die kruitdampe uit die laer styg.

Bart Pretorius lei nou drie stormlope te perd tot in die Zoeloelinies. Die manne skiet uit die saal op die digste samedrommings van die impi en probeer om langs die donga by die vyand se linkervleuel verby te jaag. Terwyl die voorste geledere van die Zoeloes retireer, probeer regimente witskilde

agter hulle vorentoe dring en op die kommando afstorm. Die witskilde word eers agtertoe gedwing en Bart se kommando skiet honderde gedurende dié beweging dood. Uiteindelik storm die krygers, versterk deur die jonger regimente weer vorentoe. Pretorius en sy perderuiters word gedwing om terug te val laer toe. Die kommando loods ‘n tweede stormloop en slaag daarin om die Zoeloes verder terug te dryf met knap skietwerk en bedrewe ruitery. Die manne val egter weer terug toe die linies vorentoe dryf. Die skuts in die laer trek andermaal los en slaan die aanval af met hulle gewere en kanonne. Die derde stormloop is meer suksesvol: die perdekommnado sny deur die Zoeloegeledere en val die linies in die oop veld van agter aan. Andries Pretorius laat die kanonne uit die laer sleep en bestook die aanstormende bendes van voor. Die impi breek op en Bart en sy ruiters jaag in die opening in, verdeel die krygers en met die hulp van die kanonne dryf hulle die vyand al verder uitmekaar. Andries Pretorius lei ‘n verdere stormloop uit die laer; toe die Zoeloes in twee groepe vlug, verdeel Pretorius sy manne ook en so agtervolg hulle die vlugtendes vir omtrent drie ure.

Dambuza se regiment probeer die Ncome oorsteek – talle word daar naby die laer doodgeskiet terwyl baie gewondes ook in die rivier spring. Die water verkleur rooi van die Zoeloes se bloed – vandaar die naam, “Bloedrivier”. Sarel Cilliers en sy ruiters jaag Ndlela se krygers en hulle slaan ook op die vlug terwyl hulle op strepe platgetrek word. Die hakkejag duur tot die middag voor die kommando’s terugkeer laer toe. Toe Andries Pretorius ‘n kryger probeer vang om hom met ‘n boodskap na Dingane te stuur, steek die Zoeloe in sy rigting met sy assegaai. Pretorius skiet en mis die man, sy perd spring terug en noodsaak Pretorius om af te spring. Die Zoeloe steek weer ‘n keer na Pretorius wat die assegaai met sy geweer afweer. Die derde keer klap Pretorius die assegaai met sy linkerhand weg maar die lem steek deur sy handpalm. Pretorius pen die kryger op die grond vas terwyl dié hom probeer verwurg. ‘n Makker trek die assegaai uit Pretorius se hand en steek die swarte daarmee dood.

Terwyl Gerrit Raath en ‘n mede-trekker na die agtervolging koers neem rivier toe, kom hulle op ‘n gekweste Zoeloe af. Om ammunisie te spaar wil hulle die man met sy eie assegaai dood, maar dié spring op en steek Raath in die rug. Die Trekkers skiet die kryger mis en die Zoeloe beland bo-op Raath en ‘n gestoei ontstaan. Hattingh sien die worsteling, gryp die assegaai uit die man se hande en steek hom daarmee dood. Raath herstel gelukkig later van sy wond.

Die Zoeloemag slaan op ‘n totale vlug en die kommando’s keer terug laer toe. Die Trekkers het nie ‘n enkele man verloor nie en slegs drie het wonder opgedoen: Andries Pretorius, Philip Fourie en Gerrit Raath. Na skatting is omtrent 3000 Zoeloekrygers in die omgewing van die laer dood, maar ‘n groot aantal het in die agtervolging gesneuwel. Die Trekkers doen ‘n dankgebed en nuttig ‘n welverdiende ete waarna hulle die gewere skoonmaak en lopers giet vir moontlike verdere skermutselings met Dingane se impi. Kommandant Landman en ‘n kommando met vars perde rapporteer later dat daar geen teken van die Zoeloemag in die omgewing te bespeur is nie. Andries Pretorius roep die aand sy manne bymekaar vir ‘n krygsraad waar besluit word om Dingane in sy hoofstat aan te pak. Die sogenaamde Wenkommando ervaar daardie aand ‘n ongekende opwinding na ‘n spannende en vermoeiende dag en kry ‘n goeie nag se rus in.

Andries Pretorius en Karel Landman het albei verslae oor die Slag van Bloedrivier nagelaat terwyl Jan Gerritze Bantjes se joernaal ‘n belangrike bron van inligting is.

Begrafnisse (17 Desember 1838)
Vroeg die oggend van 17 Desember 1838 word die laer by Bloedrivier uitmekaar gemaak en die Trekkers kies koers na Umgungundlovu, Dingane se hoofstat. By Italeni word Piet Uys en sy gestorwe makkers se oorblyfsels gesoek en begrawe. Teen 20 Desember 1838 is Pretorius se kommando naby die hoofstat en ‘n patrollie word gestuur om verkenning te doen. Tot hulle verbasing aanskou hulle hoe die hele kraal in ligte laaie staan. Dingane, sy vrouens en sy onderdane is besig om noordwaarts te vlug met hulle vee en honde. Pretorius trek laer en hy en 200 man deursoek die terrein van die smeulende stat. Hulle vind ook Piet Retief se geselskap se oorblyfsels by kwaMatiwane waar hulle vermoor is. Die individue word uitgeken aan hulle klere, artikels in hulle sakke, knope, ens. Langs Retief lê sy waterbottel en leertas met korrespondensie en die traktaat wat Retief en Dingane geteken het. Op Kersdag begrawe Andries Pretorius en sy manne die Retief-geselskap se gebeendere in ‘n gesamentlike graf aan die voet van die koppie.

Bron: Groot Trek

DIE BLAAUWKRANTZ MOORDE

Na Piet Retief se vertrek vir sy tweede besoek aan Dingane, versprei die Trekkers oor ‘n wye gebied van die Natalse landskap, sommige verby Blaauwkrantz, terwyl nog Trekkers oor die Drakensberg kom. Teen die 15de Februarie 1838 stuur Gert Maritz ‘n groepie verspieders om Retief se lot te probeer bepaal. Maritz doen by die kampe aan om die Trekkers te waarsku teen die Zoeloe en te vermaan om terug te keer laer toe. Sommige reageer wel terwyl andere hom ignoreer.

Intussen beweeg die Zoeloemag stadig vorentoe terwyl spioene die presiese posisies van die kampe vasstel. Gedurende die nag van 16 Februarie 1838 sluip 10 000 krygers in ‘n uitgestrekte formasie en slaan toe op die Trekkers in die gebied tussen die Boesmansrivier en ‘n sytak van die Blaauwkrantzrivier, genaamd Moordspruit. Teen ongeveer eenuur die oggend hoor Daniël Pieter Bezuidenhout sy honde blaf en hy stel ondersoek in. Skielik besef hy dat die Zoeloes reeds in aantog is na die kamp. Hy hardloop terug om sy geweer te kry terwyl hy die ander waarsku dat die swartes op hulle is en reeds besig is om die honde dood te maak. Dit was egter te laat en hy hoor hoe sy pa uitroep voor hy sterf. Sy swaer, Roelof Botha, vuur drie skote af voor hy sneuwel. Daniël se vrou gee hulle nuutgebore baba aan en dring by hom aan om te vlug; sy self was te swak om ver te beweeg. Bezuidenhout hardloop met die baba deur die harwar van vegtende Zoeloes en Trekkers. Toe die baba huil, word Bezuidenhout met ‘n assegaai in die skouer en die ribbes gewond. Hy word weer raakgesteek maar slaag daarin om tussen die beeste te beland – om agter te kom dat die baba in sy arms reeds beswyk het.

In die stilte wat volg, hoor Bezuidenhout hoe die waens gebreek en die seile geskeur word. Met die uitsondering van een van Daniël se broers, is die ganse groep Trekkers uitgemoor. Bebloed haas Bezuidenhout om die Trekkers in die ander kampe te waarsku, maar die hordes val die Liebenbergs, Rossouws, Engelbrechts, Bothmas, Cilliers’, Steenkamps, Maritze, Van Dyks en Van Rensburgs aan en vermoor baie op die allerwreedste en barbaarse wyse. Daar word jag gemaak op die Trekkers wat probeer ontvlug; die vrouens en mans word op die afgryslikste maniere vermink en vermoor. Die swartes gryp babas aan hulle enkels en verbrysel hulle koppe teen die wawiele.

Sommige Trekkers probeer nou weerstand bied. Die Bothmas, wat op ‘n koppie vasgekeer word, veg dapper en dood ‘n aantal Zoeloes, maar word deur die oormag, wat agter stormende osse skuil, oorrompel.

Die Van Rensburgs bied sterk weerstand en toe hulle koeëls opraak, storm Marthinus Oosthuizen te perd deur die Zoeloe-kordon na ‘n wa om ammunisie te kry. Hy bereik die Trekkers ongedeerd en in die geveg wat volg val die krygers terug en laat 80 dooies agter.

Bronne: http://www.groottrek.co.za/