Boere Genaraals

GEN PIET JOUBERT

Genl. Piet Joubert (Petrus Jacobus Joubert) was kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek.

Joubert is op 20 Januarie 1831 naby Prins Albert in die Kaapprovinsie gebore. In 1836 trek hy saam met sy gesin onder leiding van Piet Retief. In 1852 neem hy deel aan die slag teen Sechele en 13 jaar later in die Vrystaat aan ‘n veldtog teen die Basoeto’s.

In 1865 word hy verkies tot lid van die Z.A.R. se Volksraad vir Wakkerstroom en in 1875 en 1876 tree hy op as waarnemende president van die Republiek op tydens president T.F. Burgers se afwesigheid. Hy vertrek in 1878 as lid van die twee deputasie na Engeland om die Britse regering te probeer oorreed om die vryheid van die Transvaal terug te gee.

Generaal Piet Joubert was Kommandant-generaal van die Suid-Afrikaanse Republiek (Transvaal) en die tweede lid van die Driemanskap. Tydens President T F Burgers se besoek aan Europa in 1876 neem hy as staatspresident waar. Saam met Paul Kruger is hy een van die onderhandelaars met die Britse regering oor hulle verbreking van die Sandrivier-Konvensie en om te protesteer teen die Britse anneksasie. As vredeliewende mens word hy teen sy sin as opperbevelvoerder van die Boeremagte gekies. Tog aanvaar hy die pos en verrig sy taak met besondere militêre vernuf. . Joubert is in 1880 gekies as lid van die Driemanskap en benoem tot kommandant-generaal van die Boeremagte, wat hy dan ook tot sy dood bly. In 1883 word hy vise-president van die Z.A.R. en in 1899 opperbevelvoerder van die Boeremagte wat die suidoosgrens moet verdedig. Hy sterf die volgende jaar op 27 Maart en word begrawe op sy plaas, Rustfontein, distrik Wakkerstroom.

Gen Joubert het aan verskeie veldslae deelgeneem, maar die vernaamste was seker die slag van Majuba.

Mev Hendrina Joubert wat haar man in die Boerekamp besoek het, was een van die eerste persone wat met sonop op Sondagmôre, 27 Februarie, die Britte op die kruin van Majuba opgemerk het. (Lees geerus daaroor op die veldslae blad.) Wat egter interrisant is, iss dat na die geveg het Gen Joubert sy vyand, Colley, se lyk na sy eie huis laat neem en dit daar geehou totdat die Britte dit kom afhaal het. Hy het ook die volgende telegraaf gestuur:

Telegram van Gen Piet Joubert aan Lady Colley.

“Regret extremely sad the fate of Colonel Colley,  who fell in action at one ‘o clock, February 27, in attempting to hold mountain fortress forming right of Boer position.  Regret he should have fallen in a war, the outcome of a policy which he had not caused;  also that he should fall in such an unprovoked and unholy war against the Boer  people struggling for freedom.  Can only aid you in your sorrow by giving every facility for the removal of the corpse of your gallant husband.

DIT in my oë is menslikheid.

Die Stad Pietersburg asook Joubertpark in Johannesburg is na hom vernoem.

Na Pres Paul Kruger was Gen Joubert die mees populêre persoon in Suid Afrika.

Sover my kennis stek is Mev Joubert in die Randfonteinse begrafplaas begrawe, maar ons kon nie die graf opspoor nie. Kontak my asb indien u kan help hiermee.

Generaal Koos de la Rey 

Generaal Koos de la Rey (Jacobus Herculaas de la Rey) (22 Oktober 1847 – 15 September 1914) was ‘n Boeregeneraal gedurende die Tweede Vryheidsoorlog en word geag as een van die grootste militêre leiers tydens daardie konflik. Hy is gebore naby Winburg, Oranje-Vrystaat, Suid-Afrika, en was die sesde kind van Adrianus Johannes de la Rey en Adriana van Rooyen. Daar word geglo dat hy die kleinseun is van immigrante vanuit Nederland. Ná die Slag van Boomplaats in 1848 is hul familieplaas deur die Britte geannekseer en het die gesin na die Transvaal getrek en hulle naby Lichtenburg gevestig. As jong man het De la Rey gewerk as transportryer wat die diamantroetes bedien het by Kimberley. Hy het met Jacoba Elizabeth Greeff getrou (wat op die plaas Manana grootgeword het, die huis staan nog net oos van lichtenburg) en op die plaas Elandsfontein gebly . Die egpaar het tien kinders gehad. De la Rey was ‘n diep gelowige mens en ‘n Sakbybel was selde nie in sy hande nie. Hy het ‘n formidabele voorkoms gehad – ‘n lang, netjies gesnyde bruin baard met ‘n hoë voorhoof met gesonke oë wat hom ‘n patriargiese voorkoms gegee het.

De la Rey het in die Basotho-oorlog van 1865 geveg en in Sekhukhune se oorlog van 1876. Hy was nie ‘n aktiewe deelnemer in die Eerste Vryheidsoorlog nie, maar was ‘n Veldkornet in die Wes-Transvaal en het genl. Piet Cronjé se Potchefstroom Beleg oorgeneem toe Cronjé siek geword het. Hy is verkies tot kommandant van die Lichtenburg distrik en het in 1883 lid geword van die Transvaalse Volksraad. As voorstaander van die vooruitstrewende beleid van genl. Piet Joubert, het hy Paul Krugerse beleid teenoor die uitlanders (buitelanders wat na die goudvelde van Transvaal geswerm het) teëgestaan en gewaarsku dat dit sou lei tot oorlog met Groot Brittanje. Hy word algemeen aanvaar as die sterkste en minste inskiklike Boere Generaal tydens die Tweede Vryheidsoorlog en as een van die leiersfigure van Afrikaner Nasionalisme. As guerilla het sy taktieke besonderse sukses behaal. De la Rey was gekant teen die oorlog tot die laaste, maar toe hy as lafaard beskuldig is tydens ‘n Volksraadvergadering, het hy gesê dat as die tyd vir oorlog sou kom, hy sou veg lank nadat die wat koukus oor die oorlog al opgegee het. Die woorde sou later bewaarheid word.

De la Rey was beroemd vir sy rare gedrag teenoor sy vyande. ‘n Voorbeeld hiervan is by Tweebosch op die 7de Maart waar hy Luitenant-generaal Methuen saam met ‘n paar honderd van sy troepe gevange geneem het. Die troepe is teruggestuur na hulle onderskeie oorlogslyne omdat De la Rey nie die bronne gehad het om hulle te onderhou nie en Methuen is vrygelaat omdat hy erg gewond is en De la Rey gemeen het dat hy sou doodgaan sonder die mediese dienste wat slegs die Britte op daardie stadium kon verskaf.

Jan Christian Smuts

Veldmaarskalk Jan Christian Smuts (24 Mei 1870 – 11 September 1950) was ‘n prominente Suid-Afrikaanse en Statebond staatsman, militêre leier en filosoof. Behalwe dat hy verskeie kabinetposte beklee het, het hy ook gedien as die Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika van 1919 tot 1924 en van 1939 tot 1948. Hy het gedien in die Eerste Wêreldoorlog en as ‘n Britse veldmaarskalk in die Tweede Wêreldoorlog.

In JC Smuts outobiografie wat in 1952 gepubliseer is, en wat deur sy seun (ook JC Smuts}, geskryf is noem hy dit spesifiek dat Genl Smuts sy naam as “Christian” gespel het met een “a” na gelang van sy oupa se name wat Jan Christian de Vries geheet het.

Smuts was gebore op 24 Mei 1870 in die huis genaamd Bovenplaas op die plaas Ongegund naby Riebeek-Wes en was die tweede seun van Jacobus Abraham Smuts en Catherina Petronella (de Vries).

Smuts het homself onderskei as:

  • ‘n Boeregeneraal op kommando tydens die Anglo-Boere-oorlog
  • ‘n Suksesvolle onderhandelaar met Brittanje
  • ‘n Briljante strateeg in die Eerste Wêreldoorlog
  • Die slagter van die 1922-staking
  • Raadgewer in die Tweede Wêreldoorlog
  • Eerste Minister van Suid-Afrika tydens twee verskillende periodes van diens
  • Woordvoerder van die Britse Statebond
  • Erkende akademikus in die filosofie van holisme en in botanika.
  • Kanselier van die Universiteit van Cambridge

TYDLYN 

  • 1870, 24 Mei, Smuts word gebore op die plaas Ongegund
  • 1886 Skryf in by die Stellenbosch Gimnasium
  • 1890 Skryf ‘n opstel “South African Customs Union” waar hy reeds Suid-Afrika se toekoms sien binne die konteks van politieke eenheid met Brittanje. Die begin van Smuts se politieke bewussyn.
  • 1891 verkry ‘n graad in literatuur en wetenskap en kry ‘n beurs om Regte in Cambridge te gaan studeer.
  • 1895 Keer terug na Kaapstad en begin ‘n regspraktyk as advokaat. In Oktober lewer hy sy eerste politieke toespraak.
  • 1897 Trek na Johannesburg en trou op 30 April met Sybella Margaretha (Isie) Krige.
  • 1898 Word aangewys as Staatsprokureur van die Transvaalse republiek.
  • 1899 Geboorte van eerste kind, ‘n seun, Jocobus Abraham Smuts. Smuts se aansoek om aan te sluit by die Anglo-Boere-oorlog word afgekeur.
  • 1900 Die Boere moet in Mei terugval, weg van Pretoria, met Smuts en Schalk Burger in beheer van die hoofstad maar moet in Junie Pretoria verlaat om by Louis Botha aan te sluit. Smuts se seun Koosie sterf drie maande nadat hy Pretoria verlaat het. In Desember neem Smuts beheer oor die Suidwestelike Transvaal.
  • 1901 Die Boere besluit om nie oor te gee nie, en Smuts lei sy kommando teen die Engelse.
  • 1902 Smuts speel ‘n sleutelrol in die onderhandeling van ‘n vredesverdrag in Vereeniging.
  • 1903 Smuts en ander prominente leiers skryf ‘n dokument wat die Boere se griewe uiteensit.
  • 1905 Smuts en Louis Botha stig Het Volk party in Pretoria.
  • 1906 Smuts vertrek op sy eie private sending om die Liberale in Brittanje te oortuig van die Boere se pleidooi.
  • 1907 Onderhandel as koloniale Sekretaris met Mohandas Karamchand Gandhi wat besig was om die passiewe verset van Indiërs te lei.
  • 1908 ‘n Ooreenkoms word bereik tussen Smuts en Gandhi, maar beide eis dat die ander een die ooreenkoms misverstaan het.
  • 1910 Die Unie van Suid-Afrika kom tot stand en Smuts word ingesluit in Eerste Minister Louis Botha se kabinet.
  • 1911 As Minister van myne en bedrywe word die wet op Myne en bedrywe voorgelê.
  • 1912 Smuts lê die Unie van Suid-Afrika se verdedigingswetgewing voor.
  • 1913 As minister van verdediging moet Smuts toetree tot die mynwerkersgeskil en arbeidersonrus in Johannesburg.
  • 1914 Smuts onderhandel weereens met Gandhi en verander die wetgewing om meer toegewend te wees teenoor die Indiërs.
  • 1914 Smuts onderdruk ‘n Boererebellie met Unie-troepe en laat Jopie Fourie teregstel.
  • 1915 Botha se strategie en leierskap lei tot ‘n oorwinning oor die Duits besette Suidwes-Afrika. Smuts word genooi deur die Britse regering om beheer oor te neem van die Britse troepe in Oos-Afrika.
  • 1919 Smuts word die Eerste Minister van Suid-Afrika.
  • 1920 Versterk die posisie van die Suid-Afrikaanse party deur ‘n samesmelting van partye te onderhandel.
  • 1921 Smuts word deur Brittanje gevra om die Ierse vraagstuk te bemiddel. Smuts sukkel binne Suid-Afrika om ‘n ooreenkoms te beding met ontevrede mynwerkers.
  • 1922 Rhodesië stem daarteen om ingesluit te word as deel van Suid-Afrika.
  • 1922 Smuts kondig krygswet af en slaan die 1922-staking met groot bloedvergieting neer.
  • 1924 Smuts se Suid-Afrikaanse Party verloor die verkiesing teen die Nasionale Party en hy word leier van die opposisieparty.
  • 1925 Smuts word die president van die Assosiasie vir die bevordering van Wetenskap.
  • 1926 Smuts publiseer ‘n filosofiese werk oor Holisme naamlik: Holism and Evolution.
  • 1929 In sy verkiesingsveldtog beywer Smuts hom vir ‘n “Britse konfederasie van Afrikastate” dwarsoor Afrika en verloor die verkiesing weer teen die Nasionale Party.
  • 1933 Smuts beding ‘n samewerkingsooreenkoms met genl. Hertzog ten einde ‘n koalisieregering te skep.
  • 1934 Op 5 Desember smelt die Suid-Afrikaanse Party met die Nasionale Party saam en Smuts word onderleier van die Verenigde Party.
  • 1939 Nadat Duitsland Pole ingeval het, is daar ‘n geskil tussen Hertzog en Smuts oor deelname in die oorlog. Smuts wen ‘n parlementêre stemming ten gunste van die oorlog. Hertzog bedank en Smuts word weereens die Eerste Minister van Suid-Afrika.
  • 1941 Smuts raak aktief betrokke by die Tweede Wêreldoorlog en besoek die front in Oos-Afrika.
  • 1942 Smuts word deur Churchill genooi na samesprekings in Kaïro vir strategiese samesprekings oor die verloop van die oorlog in Afrika.
  • 1943 Smuts benut die oorwinning oor Duitsland in Noord-Afrika om die verkiesingstryd te wen teen D.F. Malan.
  • 1944 Smuts ontmoet vir president Rooseveldt in Kaïro.
  • 1945 Churchill moedig Smuts aan om ‘n vriendskap aan te knoop met die kernfisikus Niels Bohr, en Smuts kom sodoende te wete van die ontwikkeling van die atoombom. Die Tweede Wêreldoorlogloop ten einde.
  • 1947 Die Britse Koninklike familie besoek Suid-Afrika op uitnodiging van Smuts. Smuts woon die troue by van Prinses Elizabeth.
  • 1948 Smuts verloor die verkiesing teen D.F. Malan se Nasionale Party. Smuts word aangewys as Kanselier van die Universiteit van Cambridge.
  • 1949 Smuts tree op as spreker by die inwyding van die Voortrekkermonument.
  • 1950 Smuts sterf op 11 September.

Generaal JBM Hertzog

J.B.M. (Barry) Hertzog is op 3 April 1866 in Wellington in die Kaapkolonie gebore, uit ‘n ou Kaapse geslag van Afrikaners. Hy was die agtste kind van Johannes Albertus Munnik Hertzog en Susanna Maria Jacoba Hamman. Hy het in die regte aan die Victoria College voorloper van die Universiteit van Stellenbosch gestudeer (waar hy hom reeds geërg het aan die feit dat Engels i.p.v. Nederlands die voertaal was en daarna aan die Universiteit van Amsterdam. Van 1892 tot 1895 het hy ‘n advokaatpraktyk in Pretoria (Zuid-Afrikaansche Republiek) gehad. In 1895 het hy regter in Bloemfontein (Oranje-Vrystaat) geword.

J.B.M. Hertzog is tydens die Tweede Boereoorlog (1899-1902) van kommandant tot generaal in rang bevorder. As generaal het hy saam met ‘n groep Boeresoldate met sukses die Kaapkolonie binne. Hy het die onderbevelvoerder van die leër van die Oranje-Vrystaat geword. Hy was geliefd onder sy manskappe en ‘n voorstander van guerrilla-aksies teen die Engelse. Hy was aanvanklik ‘n voorstander van die voortgesette stryd tot die bitter einde, maar hy het later tot insig dat verdere bloedvergieting sinneloos was en op 31 Mei 1902 was hy één van die ondertekenaars van die Vrede van Vereeniging.

J.B.M. Hertzog was ‘n vurige voorstander van die behoud van Nederlands as kultuurtaal vir die Afrikaner en het hy ‘n leidende rol gespeel in die stigting van die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst wat op 2 Julie 1909 opgerig is met as doel: De handhaving en bevordering van de Hollandse Taal en Letteren, en van de Zuid-Afrikaanse Geschiedenis, Oudheidkunde en Kunst.

HERTZOG AS POLITIKUS EN TAALSTRYDER 

J.B.M. Hertzog het ‘n vooraanstaande politikus in die Oranjerivierkolonie geword, soos die Oranje Vrystaat nou deur die Engelse genoem is. In 1906 was hy een van die oprigters van die Orangia Unie Party wat hom ten doel gestel het om die Afrikanerkultuur te behou met heftige verset teen assimilasie met die Engelse. In 1907, die jaar wat die Oranjerivierkolonie selfbestuur gekry het, tree Hertzog as prokureur-generaal en minister van Onderwys toe tot die kabinet van premier Abraham Fischer. In dieselfde jaar is hy ook vir die kiesafdeling Smithfield in die parlement verkies. Hy was vir 33 jaar parlementslid (eers in die parlement van die Oranjerivierkolonie, daarna, vanaf 1910, in die parlement van die Unie van Suid-Afrika).

J.B.M. Hertzog en M.T. Steyn het ‘n leidende rol gespeel in die erkenning van Nederlands as amptelike taal van die Unie van Suid-Afrika, naas Engels op 31 Mei 1910. Reeds gedurende 1909 is onder leiding van Jan Smuts en John X. Merriman ‘n konsepgrondwet opgestel, wat vir die beginsel van 2 amptelike tale voorsiening gemaak het, maar dit was vir Hertzog en M.T. Steyn nie genoeg nie. Hertzog het ‘n wysiging van die konsepgrondwet opgestel (artikel 137), wat hy persoonlik onderteken het, wat as volg lui: De engelse alsmede de hollandse talen zijn officiële talen van de Unie. Zij worden op een voet van gelijkheid behandeld en bezitten en genieten gelijke vrijheid, rechten en voorrechten. Alle akten, verslagen en verrichtingen van ‘t Parlement worden in beide talen gehouden, en wetsontwerpen, wetten en kennisgevingen van algemeen publiek gewicht of belang door de Regering van de Unie uitgegeven, zijn en geschieden in beide talen. Artikel 137 is uiteindelik aanvaar in die Zuid Afrika-wet waardeur die vier koloniale gebiede omvorm sou word tot die Unie van Zuid-Afrika.

As minister van Onderwys van die Oranjerivierkolonie het hy hom vir tweetaligheid (Nederlands/Engels) in die onderwys beywer. Ook het hy vir gelygberegtiging tussen die 2 tale gestry, want na die Anglo-Boereoorlog was Engels die dominante onderwystaal in die Oranje Vrystaat. Met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika het Hertzog gedien as minister van Justisie onder die eerste premier van die Unie, Louis Botha. Hertzog het baie moeite gehad om onder Botha te dien, want vir Hertzog was Botha te laaggskoold en te ongekultiveer om die pos van ‘n eerste minister te beklee.

Hertzog was minister van justisie tot 1912, toe hy in konflik gekom het met Botha oor Botha se pro-Engelse beleid. Hertzog het ‘n tweestroom-beleid voorgestaan waarvolgens die Afrikanerkultuur langs die Engelse kultuur sou bestaan. Botha het ‘n konsolidasie-beleid voorgestaan, waar Boer en Brit één moes word in ‘n nuwe kultuurgroep. Die taal van die nuwe kultuurgroep was vir Botha onbelangrik en was hy tevrede met Engels as taal vir die nuwe kultuurgroep.

Stigting van die Nasionale Party 

Hertzog het die Suid-Afrikaanse Party van Botha verlaat en rig in Julie 1914 met enkele “Ou Boere” (veterane van die Tweede Boereoorlog wat altyd anti-Engels en anti-imperialisties gebly het) die Nationale Partij op, wat in die volksmond bekend gestaan het as Natte of (NP), en in Afrikaans vertaal is met Nasionale Party. Die NP het homself ten doel gestel om die Afrikaner volksmassa te emansipeer, die Afrikanerkultuur te behou en die magsmonopolie van die Engelse elite te breek. Die NP was ook ‘n voorstander van segregasie van blankes en swartes (“apartheid”) en ‘n teenstander van die stemreg vir swartes (“Naturelle”).

In 1916 het Gordon Tomlinson van Vredefort ‘n voorstel ingedien om Afrikaans te gebuik as taal van die Vrystaatse Nationale Partij. J.B.M. Hertzog het kapsie gemaak en dit duidelik gemaak dat hy (Hertzog) Afrikaans nie goed beheers het nie. Herzog het ook hier te kenne gegee dat as hy gedwing sou word om Afrikaans te gebruik, hy as voorsitter van die hoofbestuur sou bedank, want in de Grondwet wordt gesproken van Hollands en niet van Afrikaans.

Net soos Hertzog, was ook ‘n ander prominente leiersfiguur voorstander van die behoud van Nederlands as kultuurtaal vir die Afrikaner en dit was Onze Jan Hofmeyr. Onze Jan Hofmeyr was ook net soos Hertzog, voorstander van die behoud van goeie bande met die Kleurlinggemeenskap. So haal Die Burger van 14 Oktober 1921 genl. Hertzog aan, waar hy oor die Kleurlinggemeenskap skryf: “Hy is deel van ons…Die Kleurling het sy stem in die Kaapprovinsie en dit kan hom nie ontneem word nie…Ons kan die stemreg van die Kleurlinge nie weerhou nie. Ons wil hulle eerlik behandel en hulle as ons vriende beskou”.

Tydens die Maritz-rebellie  het Hertzog besluit om neutraal te bly. Hertzog het hom ook verset teen die Suid-Afrikaanse deelname aan die Eerste Wêreldoorlog aan die kant van Engeland en het neutraliteit bepleit. In 1919 volg Jan Christiaan Smuts premier Botha op. Ondanks die feit dat Hertzog en Smuts persoonlik goed met mekaar oor die weg gekom het, het hulle politiese opvattings lynreg teenoor mekaar gestaan. Smuts het die koers van Botha gevolg en Hertzog het hom bly verset teen die Engelse hegemonie.

By de Suid-Afrikaanse parlementsverkiesing van 1915 het die Nasionale Party slegs 27 setels gekry, maar by die parlementsverkiesingen van 1920 het die NP met 44 setels die grootste party geword. Danksy enkele oorwegend Engelstalige partye kon die Suid-Afrikaanse Party onder Smuts die mag behou.

PREMIER 

Smuts het aanvanklik ook die steun van die armblankes geniet, maar nadat Smuts in 1922 die leër opdrag gegee om ‘n mynwerkerstaking van blanke arbeiders aan die Rand met geweld te onderdruk  het hy die steun verloor. Hertzog het skerp stelling ingeneem teen die geweld en het opgetree as verdediger van die regte van die armblanke arbeiders. By die parlementsverkiesingen van 1924 verkry die gekombineerde Nasionale Party-Arbeidersparty die absolute meerderheid in die Volksraad (tweede kamer van die Parlement van Suid-Afrika). Hertzog het premier geword van ‘n kabinet waarin die NP- as (twee) Labour-politici sitting gehad het. Kolonel Frederic Creswell (minister van Verdediging) van die Arbeidersparty het vise-premier geword.

In 1927 is die vlag van Suid-Afrika verander en saam met “God save the King” is “Die Stem van Suid-Afrika” as die amptelike volksliedere van die Unie van Suid-Afrika (1927) aanvaar. Hertzog het sedertdien laat weet dat hy nie meer na ‘n republiek streef nie. Suid-Afrika in sy oë al voldoende onafhankelikheid geniet. Daniel François Malanen die lede van die Broederbond het gevind dat Hertzog te gereeld kompromieë nastreef. Hy moes volgens hulle die “God save the King” as volkslied afgeskaf het en moes hy sy republikeinse idee nie laat vaar het nie. Ook wat die taalbeleid en die standpunte oor die Kleurlinggemeenskap betref, het Hertzog en Malan lynreg teen mekaar gestaan. Hertzog was van mening dat Nederlands nog altyd ons kultuurtaal was en dat ons hierdie taal deel met die Vlaminge en Nederlanders soos ook die Amerikaners en Australiërs ‘n gemeenskaplike taal deel met die Engelse. Malan was van mening dat Nederlands ‘n buitelandse produk was. Hertzog wou die Kleurlinge op die kieserslyste hou, terwyl Malan die Kleurling van die kieserslyste wou skrap.

By die parlementsverkiezingen van 1929 het die NP die absolute meerderheid in die Volksraad verkry en die Arbeidersparty is as koalisieparty laat vaar. Desondanks kon Frederic Creswell en sy sosialistiese kollega, wat intussen uit die Arbeidersparty geskors is, as vise-premier aanbly, ondanks verset van die Kaapse afdeling van die NP.

Danksy die Statuut van Westminster (1931) verkry Suid-Afrika as grondgebied volledige onafhanklikheid binnen die Britse Gemenebes. In dieselfde jaar verkry blanke vroue stemreg.

VERENIGDE PARTY 

In 1933, na die parlementsverkiesing, het die NP en die Suid-Afrikaanse Party (SAP) van Smuts ‘n koalitie aangegaan en het Smuts vise-premier geword en Hertzog premier. ‘n Jaar later, in 1934, het die NP en die SAP saamgesmelt, teen die sin van die regse vleuel van de NP, om dieVerenigde Party (VP) te vorm. As gevolg hiervan het die regses onder parlementslid D.F. Malan hulle van die NP afgeskei en stig hulle die Gesuiwerde Nasionale Party (GNP). Slegs een parlementslid van die NP het Malan gevolg om aan te sluit by die GNP, naamlik Johannes Gerhardus Strijdom.

GRONDLEGGER VAN APARTHEID 

Tydens sy laaste jare as premier het Hertzog hom veral besig gehou met ‘n verdere uitbreiding van die rassewette. Grondbesit vir swartes is verder beperk, die stemreg vir Kaapse swartes is afgeskaf (1936) en die reservate vir “Naturelle” is uitgebrei.

Die liberale vleuel onder Onze Jan Hofmeyr en Jan Smuts was geen ware voorstanders van Hertzog se rassepolitiek nie, maar omdat hulle die “vrye hand” gekry het betreffende die “versoening” tussen Afrikaners en Engelse blankes, het hulle Hertzog sy gang laat gaan 

AFTREDE 

Hertzog was ‘n teenstander van Suid-Afrikaanse deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Volgens Hertzog moes Suid-Afrika neutraal bly. Hierin het hy lynreg teenoor Smuts gestaan, wat net soos die meeste Engelse blankes, ‘n voorstander was van deelname aan die oorlog aan die kant van Groot-Brittanje. In die kabinet in September 1939 het 7 teen 6 ministers vir oorlogsdeelname  gestem. Hertzog het verwag dat die parlement anders sou oordeel. Maar 80 teen 67 parlementariërs het egter 4 September 1939 vir oorlogsdeelname gestem. ‘n Groot deel van die vroeë NP parlementariërs het dus ook ten gunste van die oorlog gestem. Hertzog het dit as ‘n nederlaag beskou en afgetree as premier. Op 5 September is Herzog deur Smuts as premier opgevolg. Hertzog het met 37 ander VP lede weggebreek en die Volksparty gestig. Hertzog se Volksparty sou direk daarna weer saamsmelt met Malan se Gesuiwerde Nasionale Party om die Herenigde Nasionale Party (HNP) te vorm. Die hereniging was egter van korte duur. Die verskille tussen Hertzog en Malan was te groot. Hertzog het uit die politiek getree en sy belangrikste ondersteuners sou onder die leiding van N.C. Havenga die Afrikanerparty stig. Hertzog is in 1942 oorlede.

Op 22 Oktober 1951 het die Herenigde Nasionale Party, onder die leiding van D.F. Malan, saamgesmelt met die Afrikanerparty onder leiding van N.C. Havenga onder die ‘ou’ naam Nasionale Party.

STERFTE 

Hertzog het op 76-jarige leeftyd gesterf.

FAMILIE 

In 1894 trou Hertzog met Wilhelmina Jacoba (Mynie) Neethling en hulle het drie kinders gehad. Een van sy kinders, Albert Hertzog, het in 1969 die ‘regse’ Herstigte Nasionale Party (HNP) gestig teenoor die ‘verligte’ Nasionale Party van B.J. Vorster.

Christiaan de Wet

Christiaan Rudolf De Wet (1854 – 1922) was ‘n Boeregeneraal tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Christiaan de Wet is te Leeukop naby Smithfield in dieOranje-Vrystaat gebore op 7 Oktober 1854.

VROEË LEWE 

Hy het grootgeword op sy pa se plaas, Nuwejaarsfontein, naby Dewetsdorp. Hy het op negentienjarige ouderdom in die huwelik getree met Cornelia Margaretha Kruger en saam het hulle ‘n kroos van 16 gehad.

Tydens die anneksasie van Transvaal in 1877 deur Brittanje het hy na die Vredefort distrik in die Oranje Vrystaat verhuis en daarna na Weltevreden naby Koppies en toe weer daarna in 1880 na Rietfontein in die Heidelberg distrik in Transvaal.

DIE EERSTE VRYHEIDSOORLOG EN NADRAAI 

De Wet was sewe-en-twintig jaar oud met die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog in 1880. Hy het saam met die Heidelberg Kommando geveg en deelgeneem aan die Slag van Laingsnek, hy het sy dapperheid getoon by Ingogo en met die bestorming van Majuba vroeg in 1881. Na die oorlog en die herstel van Transvaal se onafhanklikheid is hy tot veldkornet verkies. In 1882 het die gesin weer verhuis na die plaas Suikerboskop in die Lydenburg distrik. In 1885 is hy tot die Transvaalse Volksraad verkies. Hy het egter slegs ‘n enkele sitting bygewoon aangesien die gesin daarna weer teruggetrek het na die Oranje Vrystaat. In 1896 het hy vir die soveelste maal getrek na die plaas Rooipoort in die Heilbron distrik. In 1889 is hy tot die Vrystaatse Volksraad verkies waar hy die Bowe Modderrivier kiesafdeling verteenwoordig het in 1898.

TWEEDE VRYHEIDSOORLOG

De Wet was vyf-en-veertig met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899. Op die 2de Oktober 1899 is De Wet en sy oudste seun, Kotie, as gewone burgers opgeroep na die Heilbron kommando. De Wet se seuns, Izak en Christiaan het hulself as vrywilligers aangesluit en so het dit gebeur dat die vier hulself vir diens aangemeld het onder Kommandant Lukas Steenkamp.

Guerrilla fase 

In Maart en April van 1900 het De Wet ‘n offensief van stapel gestuur wat ‘n herlewing in die Boere se stryd ingelui het. Hy het ‘n legende geword met sy guerilla-aanvalle in die suidooste van die land.

Vredesonderhandelinge 

‘n Konferensie van sestig afgevaardigdes uit die Transvaal en die Vrystaat is op die 15de Mei in Vereeniging gehou waar die Boereleiers beraadslaag het oor die Britse voorwaardes vir oorgawe. De Wet het as President van die Vrystaat waargeneem in plek van die President Steyn wat siek was op daardie stadium. De Wet wou die stryd voortvoer tot die bitter einde.

NA DIE OORLOG 

De Wet het met sy gesin na sy geruïneerde plaas, Rooipoort teruggekeer. In Julie van 1902 het hy sy vrou en kinders in ‘n tent op die plaas agtergelaat en saam met Generaal Louis Botha en Generaal de la Rey na Europa vertrek om fondse te gaan insamel vir die weduwees en weeskinders wat deur die oorlog verarm is. Aan boord van die skip het Eerwaarde J D Kestell hom bygestaan met die skryf van sy gedenkskrif of memoires getiteld, De Strijd Tusschen Boer en Brit (wat dan ook later in Engels as die Three Years War gepubliseer is). Die boek het groot sukses behaal en is later in ses ander tale vertaal. Met sy terugkeer het De Wet ‘n belangrike rol gespeel in die beweging om Milnerisme in die Vrystaat te beveg. Hierdie pogings het gelei tot die ontstaan van die Orangia Unie in 1906. Toe daar in 1907 aan die “Oranje rivier soewereiniteit” selfbestuur toegestaan is, is De Wet verkies tot lid vir Vredefort en is hy aangestel as Abraham Fischer se minister van Landbou. Hy was ‘n afgevaardigde by die Nasionale Konvensie van 1908-09, waar daar beraadslaag is oor die nuwe grondwet vir die Unie van Suid-Afrika. Hy het uit die politiek getree na die totstandkoming van die Unie in 1910 en te Allanvale naby Memel gaan woon waar hy genomineer is om op die Unieverdedigingsraad te dien. Sy vurige persoonlikheid het na vore getree toe dié stoere ondersteuner van Hertzog sy bekende mishoop-toespraak in Pretoria op die 28ste Desember 1912 gemaak het. Die daaropvolgende jaar het hy by die verdedigingsraad bedank. In 1914 toe De Wet en Hertzog die Nasionale Party gestig het, was daar ‘n groeiende tweespalt onder Afrikanergeledere.

DIE WEERSTANDSBEWEGING 

In die middel van Augustus 1914 het ‘n aantal prominente Boereleiers (genl. de la Rey, luit.kol. ‘Manie’ Maritz, genl. Beyers, genl. Kemp en genl. De Wet) saamgesweer om ‘n staatsgreep uit te oefen. Hulle was gekant teen die deelname van Suid-Afrika in die Eerste Wêreldoorlog en het ook ‘n geleentheid gesien om weer onafhanklikheid te verkry. Na ‘n insident te Langlaagte waar genl. de la Rey doodgeskiet is het die rebellie in volle swang gekom en het De Wet ‘n aantal dorpe ingeval en eiendom in beslag geneem in die Noordoos-Vrystaat. De Wet se seun, Danie, is saam met verskeie ander rebelle tydens ‘n skermutseling te Allemanskraal gedood. Genl. Louis Botha se regeringstroepe het die rebellie baie vinnig onderdruk, De Wet het egter ontsnap en met ‘n handjievol volgelinge na die Kalahari uitgewyk in ‘n poging om by Manie Maritz in Suidwes-Afrika aan te sluit. De Wet is op die 30ste November 1914 op die Waterbury plaas naby Vryburg in hegtenis geneem. De Wet is ‘n vonnis van ses jaar en ‘n boete van 2 000 pond opgelê wat ‘n baie ligte vonnis was. Na ses maande in die tronk is hy begenadig en vrygelaat. Kort na sy vrylating het De Wet sy plaas, Allanvale, verkoop en naby Edenburg gaan woon. Daarna het hy vir die laaste maal na die plaas Klipfontein naby Dewetsdorp verhuis. De Wet is op 3 Februarie 1922 op sy plaas oorlede en langs President Steyn en Emily Hobhouse aan die voet van die Nasionale Vrouemonument begrawe. In dié jaar het die beeldhouer Mendes da Costa in opdrag van die Nederlandse familie, Kröller-Möller, ‘n groot standbeeld ter nagedagtenis aan hom in Nederland opgerig, wat nou in die nasionale park ‘De Hoge Veluwe’ staan. Tydens die herdenking van sy 100ste verjaarsdag is, in Suid-Afrika, ‘n brons standbeeld deur Coert Steynberg van De Wet op ‘n perd by die Raadsaal in Bloemfontein onthul. Daar is ook talle strate wat na De Wet vernoem is in Suid-Afrika. In Nederland dra in totaal 35 strate sy naam, in Vlaandere 1 (in Antwerpen).

 

Louis Botha

Genl. Louis Botha (27 September 1862 tot 27 Augustus 1919) het tydens die laaste twintig jaar van sy lewe ‘n baie belangrike rol in die politiek vanSuid-Afrika gespeel, onder meer as die eerste eerste minister van die Unie van Suid-Afrika.

VROEË LEWE 

Louis Botha is op Greytown in die teenswoordige KwaZulu-Natal gebore en het as jongman in 1884 aan ‘n ekspedisie onder leiding van Lucas Meyer deelgeneem om die hoofkaptein van Zoeloeland, Dinizulu, op sy troon te herstel. Dinizulu het uit dankbaarheid ‘n stuk grond aan hulle gegee, waarvan Botha se deel die plaas Waterval naby Vryheid was.

Teen 1894 was hy ‘n vooraanstaande lid van die gemeenskap en in 1899 is tot die Parlement verkies. In Oktober van daardie jaar het hy die uitreiking van die ultimatum aan die Britse regering, wat tot die Tweede Vryheidsoorlog aanleiding gegee het, teengestaan. Toe die oorlog kort daarna uitbreek, het Botha egter wel kommandant van die Vryheid-kommando geword onder aanvoering van dieselfde Lucas Meyer, toe ‘n generaal, en hy is self ook later tot generaal bevorder.

TWEEDE VRYHEIDSOORLOG

In 1900 is hy as kommandant-generaal van die Transvaal aangestel en was leier van die Transvaalse afvaardiging by die kongres wat op die Vrede van Vereeniging uitgeloop het. In 1906 is koloniale bestuur aan die eertydse Zuid-Afrikaansche Republiek toegeken. Botha het as leier van die Het Volk-party in 1907 eerste minister geword en met Uniewording in 1910 is hy tot leier van die pasgestigte Suid-Afrikaanse Party verkies, wat hom toe ook eerste minister van die land gemaak het.

LAASTE JARE 

In sy hoedanigheid as kommandant-generaal van die Unieweermag het hy in Junie 1915, tydens die Eerste Wêreldoorlog, die oorgawe van die Duitse magte in Suidwes-Afrika bewerkstellig. Hy was ook die leier van die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die vredeskonferensie in Parys, Frankryk in 1919, wat die Vrede van Versailles tot gevolg gehad het. Hy is kort daarna op 27 Augustus 1919 oorlede.

NALATENSKAP 

Botha het nou met lord Alfred Milner saamgewerk om Uniewording te bewerkstellig, waartoe sy matige sienswyse veel bygedra het. Sy pogings om die breuk wat weens die oorlog tussen die Afrikaners en die Engelssprekendes ontstaan het, te herstel, het grotendeels geslaag. Sommige lede van die eerste Uniekabinet, veral genl. J.B.M. Hertzog, was van mening dat hy Afrikanerbeginsels opgeoffer het. Toe Hertzog teen die einde van 1912 weier om te bedank, het Botha self bedank en sy kabinet opnuut saamgestel, maar sonder Hertzog. Hertzog en sy ondersteuners het daarna die Nasionale Party gestig.

Lucas Johannes Meyer

Lucas Johannes Meyer (19 November 1846, Sandrivier – 1902) was ‘n boeregeneraal en die president van die kortstondige Nieuwe Republiek en was verantwoordelik vir die stigting van die hoofstad daarvan Vryheid.

Nadat die Nieuwe Republiek opgeneem is in die Zuid-Afrikaansche Republiek is Meyer verkies tot lid van die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Hy was oënskynlik simpatiek teenoor die saak van die uitlanders en het soms met Kruger se beleide gebots. Hy het egter wel die wapen opgeneem toe die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek en die boeremagte aangevoer wat Dundee in die Slag van Talana aangeval het. By die Slag van Modder Spruit het hy as gevolg van swak gesondheid ineengestort. Nadat hy in Pretoria herstel het, het hy na Natal teruggekeer en boeremagte op die Tugela aangevoer. ‘n Gebrek aan vertroue deur sy manskappe lei egter daartoe dat hy van sy bevel onthef word en teruggeroep word na Pretoria. Hy het in die ZAR regering onder Schalk Burger, die waarnemende president, gedien toe dit na Tautesberg in noordoos Transvaal verskuif is in Desember 1901. Hy het ook die kongres tussen die ZAR en die Oranje-Vrystaat bygewoon wat gehou is ter voorbereiding van vredesamesprekinge in April 1902. Hy het die Vrede van Vereniging mede-onderteken in sy rol as lid van die Uitvoerende Raad van die ZAR. 

Hy is in Augustus 1902 oorlede en is in Vryheid begrawe.

Ben Viljoen

Generaal Benjamin Johannes Viljoen (gebore op 7 September 1869 op die plaas Varkiesdraai, distrik Wodehouse, Kaapkolonie – 14 Januarie 1917 La Mesa, Nieu-Mexiko) was ‘n Boeregeneraal in die Anglo-Boereoorlog.

Hy het in 1890 na Johannesburg verhuis. In 1896 het hy die Krugersdorpse Vrywilligerskorps gestig en saam met hulle die Jameson-invallers en ander swart kapteinskappe teengestaan.

Hy was ook Krugersdorp se lid in die Volksraad en het Paul Kruger teengestaan oor sy siening aangaande die uitlandergeskil.

TWEEDE VRYHEIDSOORLOG 

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog het en sy korps eerstens diens gedoen in Natal, maar toe die front afbreek het hy hom aangesluit by die ander Boere om die opmars van die Britte na Pretoria te stuit. Met die einde van die konvensionele fase van die oorlog het hy ‘n mag aangevoer saamgestel uit mense van Johannesburg, Kugersdorp en Boksburg in die Noord- en Oos-Transvaal. Hy was uiters suksesvol en is in November 1900 as assistent kommandant-geeneraal aangestel, die naas hoogste rang in die boeremagte. Hy is uiteindlik gevange geneem in lokval op 25 Januarie 1902 op Lydenburg.

Vanaf Januarie tot Mei 1902 was hy ‘n gevangene op Sint Helena waartydens hy sy biografie “My Reminiscences of the Anglo-Boer War” geskryf het. Anders as die ander boere generaals was hy nie ‘n grondeienaar nie en het hy gesukkel met sy terugkeer na Suid-Afrika. Hy het ook geweier om Britse burgerskap te aanvaar wat dit vir hom onmoontlik gemaak het om ‘n openbare loopbaan te hê.

VSA 

Viljoen het in 1904 na die VSA vertrek, saam met genl. Piet Cronjé (van Paardeberg faam), om deel te neem aan die St Louis wêreldskou waar hulle die sogenaamde “Boere-sirkus” – ‘n uitbeelding van gevegte tydens die Anglo-Boere-oorlog – aangebied het. Na afloop van die skou het hy hom in die VSA gevestig. Sy vrou Lenie (née Els) het egter geweier om Suid-Afrika te verlaat. Hulle is van mekaar geskei, maar hy het later weer getrou met ‘n Amerikaanse dame, Myrtle Dickason. Hy is Amerikaanse burgerskap aangebied en het president Theodore Roosevelt in dieWit Huis ontmoet. Hy het probeer om ‘n boerenedersetting in die noorde van Meksiko te stig, maar dit het misluk.

Sy ervaringe tydens die Anglo-Boere-oorlog het hy verwoord in sy boek “Mijne Herinneringen aan die Anglo-Boeren Oorlog”, wat ook in verskeie tale vertaal is en beskou word as een van die mees realistiese weergawes van die ABO vanuit die Boere-oogpunt.

Daarna het hy teruggekeer na die VSA en hom gevestig naby La Mesa in die staat Nieu-Meksiko. Hy het Amerikaanse burgerskap aanvaar en in plaaslike politiek betrokke geraak. Hy was betrokke tydens die besprekings van 1912 waarna Nieu-Meksiko die 47ste staat van die VSA geword het. Tot en met sy aftrede in 1913 was hy vir ‘n kort rukkie die Konsul in Duitsland asook die militêre adviseur vir die Meksikaanse rewolusionêr, Francisco Madero wat in 1913 in ‘n teenrevolusie dood is. Hy is op 14 Januarie 1917 op sy plaas oorlede en in die Vrymesselaarsbegraafplaas in La Mesa begrawe.

Piet Cronje

Generaal Piet Arnoldus Cronje (1840 – 4 Februarie 1911) was ‘n leier in die Zuid-Afrikaansche Republiek se militêre magte tydens die Eerste- en Tweede Vryheidsoorlog.

Cronje is in die Transvaal gebore en het in die Eerste Vryheidsoorlog ‘n reputasie vir homself verwerf met die beleëring van die Britse garnisoen by Potchefstroom. Hy het ‘n kenmerkende voorkoms gehad aangesien hy kort met ‘n swart baard was en het ‘n reputasie gehad van as iemand wat baie dapper was.

Hy was in bevel van ‘n mag wat Jameson by Dorinkop omsingel het tydens die voltrekking van die Jameson-inval op 2 Januarie 1896. Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog was Cronje meestal in beheer van die westelike oorlogsverhoog. Hy het die beleëring van Kimberley en Mafeking van stapel gestuur. By Mafeking het hy die dorp met ‘n mag wat tussen 2 000 en 6 000 gewissel het teen 1 200 gewone troepe en militia onder bevel van Kolonel Robert Baden-Powell beleër. By die Slag van Magersfontein vroeg in Desember 1899 het hy die aanval op sy posisie suksesvol afgeweer en sodoende die noordwaartse vooruitgang van die Britse kolom vir twee maande gestuit. In Februarie 1900 weerstaan hy Lord Roberts se mag by Magersfontein maar kon nie daarin slaag om die bevryding van Kimberley te verhoed nie en moes hy terugval tot naby Paardeberg waar hy na ‘n hardnekkige stryd moes oorgee. Na sy oorgawe met 4 000 man op 27 Februarie 1900 is hy as krygsgevangene in hegtenis geneem en na Sint Helena gestuur waar hy gebly het tot met die voltooiing van vredesamesprekinge in 1902. Met die oorgawe het byna ‘n kwart van die Boeremagte in Britse hande geval en Cronje is veroordeel vir oordeel wat gelei het tot die nederlaag.

In 1904 het die sirkuspersoonlikheid, Frank Fillis, Cronje gewerf om na Amerika te reis as deel van die sogenaamde Boereoorlogsirkus (Engels: Boer War Circus). In ‘n opvoering wat deur twee-miljoen mense by die World’s Fair in Sint Louis gesien is het Cronjé opgetree in vertonings oor beroemde veldslae van die Boereoorlog insluitend sy oorgawe by Paardeberg. In wat ‘n treurige einde aan sy loopbaan was, het Suid-Afrikaanse koerante hom die teen die einde van die World’s Fair die sirkusgeneraal genoem en het hy na Coney Island gegaan waar hy in nog ‘n skouspel tentoongestel is, eerder as om terug te kom na Suid-Afrika.